
TNPA het vandag ’n versoek tot hawe- en spoorlynontwikkelaars gerig om hulself teen 2 November as gekwalifiseerd te bewys vir die ontwerp, finansiering en bou van beoogde hawe- en spoorinfrastruktuur in die Noord-Kaap ten einde inligting in te samel en geskikte ontwikkelaars te identifiseer vir ’n hawe, die verwante infrastruktuur en ’n spoorlyn wat die hawe met myn- en bedryfspunte in die provinsie sal verbind.
Luidens ’n verklaring is die ontwikkeling van ’n hawe in die Noord-Kaap die eerste stap tot die verwesenliking van Suid-Afrika se groen waterstofstrategie.
Mnr. Magenthran Ruthenavelu, programdirekteur by TNPA, sê behalwe vir die kataliserende effek van nuwe hawe- en spoorinfrastruktuur op die plaaslike ekonomie, kan dié belegging ook ’n bykomende, kostedoeltreffende kanaal vir die provinsie se mangaanuitvoer bied.