
Mnr. Adam Mostert, hoof uitvoerende beampte van Fertasa, die sambreelliggaam vir die kunsmisbedryf, sê die vorige uitgawe van dié organisasie se Bemestingshandleiding/Fertilizer Handbook dateer uit 2007.
Baie nuwe navorsing is sedertdien gedoen, wat gebruik is om sommige van die hoofstukke uit te brei. Die hoofstukke wat baie aandag gekry het, is stikstof- en fosforbestuur en die mieliebemestingsriglyne.
Van die inligting is vernuwe omdat opbrengste soveel verhoog het en dit nie meer vreemd is om 20 ton mielies per hektaar onder besproeiing te oes nie. Inligting oor grondsuurheid is ook vernuwe.
Daar is ’n nuwe hoofstuk oor mikro-elemente wat by die hoër opbrengspeile aangepas is. Nog ’n nuwe hoofstuk gaan oor presisieboerdery. Die nuwe handleiding is ook van ’n duursame buiteblad voorsien. Die eerste drukoplaag van 500 boeke is blitsvinnig opgeraap en die eerste herdruk sal eersdaags beskikbaar wees.
’n Engelse weergawe kan vanaf Januarie 2017 bestel word. Die prys is R750, maar studente kry ’n korting omdat die handleiding baie in hul studies gebruik word. Die nuwe handleiding kan bestel word by me. Hermien Wouda by e-pos: hermien@fertasa.co.za.