
Mnr. Kuben Naidoo, adjunk-goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het in die eerste Prof. Mohammad Karaan-gedenklesing op Stellenbosch gesê gegewe die bedryf se geskiedenis en die nodigheid om te transformeer sodat swart boere kan floreer, is dit die enigste gevolgtrekking wat hy kan maak.
“Ek skat ’n permanente staatsubsidie van sowat R2 miljard per jaar, tesame met private donasies en amptelike ontwikkelingshulp sal genoeg wees om sowat R15 miljard tot R20 miljard se vergunningslenings moontlik te maak.”
Dit sal landbou in veral die voormalige tuislande tot ’n kommersiële vlak neem.
“Meer as wat die huidige gebruik van dieselfde geld kan doen in die hande van die regering,” het Naidoo gesê.
Hy het benadruk so ’n bank moet kommersieel bestuur word en dat die “versoeking om aan vriende en familie en politieke konneksies uit te leen hokgeslaan moet word”. Die fiskusgeld moet deursigtig, volgens begroting en lang termyn van aard wees.
“Met landbou-ontwikkelingsprogramme is daar altyd die risiko dat as ons ’n suksesvolle boer subsideer is daar ’n sosiale guns, maar as ons ’n minder suksesvolle boer subsideer, is dit ’n welsynsverlies. Hoe besluit ’n mens watter boer om te ondersteun? Dit kan net gedoen word deur ’n gedesentraliseerde, doeltreffende en goed bestuurde uitlener wat kan risiko’s loop, maar ook vennootskappe sluit met plaaslike en provinsiale regerings en gevestigde kommersiële boere om die dilemma op te los.”
Geld nie struikelblok?
Volgens Naidoo is die geld nie juis ’n struikelblok nie. Die regering bestee tans sowat R12 miljard tot R15 miljard per jaar op landbou.
“Baie daarvan word ondoeltreffend uitgegee. As jy daardie geld slimmer gebruik, soos om in infrastruktuur in die voormalige tuislande te belê, vergunningsfinansiering te voorsien, voorligtingsdienste te herbou en hande te vat met kommersiële boere, dink ek jy kan nog 5 000 tot 10 000 kommersiële boere in die voormalige tuislande skep.”
Hy glo dit sal ook talle werkgeleenthede skep, al meen mense werkgeleenthede in die landbou raak minder namate tegnologie en meganisasie toeneem.
“Ons het gegaan van die 1970’s toe 1,7 miljoen mense in die landbou gewerk het tot sowat ’n miljoen in 1994. Daarna het dit gedaal tot 650 000 en toe weer geklim tot sowat 850 000 tans. Die landbou het dus eintlik die afgelope dekade werk geskep, ten spyte van min ondersteuning en redelik ondoeltreffende besteding.”
Naidoo sê die landbou het ’n werkende ekostelsel nodig as dié bedryf wil losbreek van die geskiedenis van dualisme, swart kommersiële boere wil vestig, en uitsette en indiensneming wil laat groei.
“Die ekostelsel behels ’n funksionele regering, belegging in waterinfrastruktuur in die voormalige tuislande, die verskaffing van landbouvoorligtingsdienste en die ondersteuning van bestaande kommersiële boere, asook marktoegang en funksionele finansiële masjinerie.”
Die lesings, wat jaarliks sal plaasvind, is gehou ter nagedagtenis aan Karaan, wat verlede jaar weens covid-19 oorlede is. Karaan was onder meer verantwoordelik vir hoofstuk ses in die Nasionale Ontwikkelingsplan, waarin hy geskryf het dis moontlik om 1 miljoen werkgeleenthede in die landbou te skep. Karaan het onverpoos gewerk om dit te laat realiseer.
Volgens prof. Nick Vink, ’n kollega van Karaan, was Karaan ’n man met groot wysheid, wat die toekoms kon visualiseer, en dit dan in aksie oorsit.
Naidoo het boere aangemoedig om ’n “verenigende visie” in te neem, soos dié waarvoor Karaan geveg het.
“Ons moet die grawe optel en aanhou om die lande te bewerk na ’n verenigende visie van ’n inklusiewe en dinamiese landbousektor en om die opkoms van swart kommersiële boere in ’n internasionaal mededingende bedryf te sien. Die alternatief is mislukking, die verdere verdieping van dualism en uiteindelik ’n populistiese dooiegang wat eenvoudig te erg is om aan te dink.”