
Wolskaapboere van Heidelberg kan weer hul jongooikuddes teen die van medeboere meet en wenke kry om dit te verbeter danksy die herlewing van die kuddekompetisie wat sedert 2016 weer ’n jaarlikse instelling geword het.
Mnr. Arno Steenkamp van Tweekop-boerdery tussen Swellendam en Heidelberg, wat die leiding neem vir die organisering van die kompetisie, sê daar is groeiende belangstelling in kuddeverbetering.
"Die Suid-Kaap en Overberg het ’n paar uitstekende graanjare gehad, maar die pendulum het nou geswaai en die waarde van die veefaktor kom na vore. Ons moet altyd na die hele prentjie kyk om te sien hoe vee in ons wisselboustelsels inpas."
Meet en leer
Steenkamp sê die kompetisie gaan nie oor wie wen nie, maar hoeveel elke deelnemer daaruit kan leer oor hoe om byvoorbeeld wollengte en wolgehalte te verbeter en die geleentheid wat dit bied om sy kudde teen die van ander boere in sy omgewing te meet. Dit bied ook ’n goeie leerskool vir die groep entoesiastiese jong boere in hul midde.
Uit vanjaar se kompetisie het daar ’n behoefte na vore gekom om meer moeite met ooikuddes te doen, sê hy.
"Ons het die Heidelberg-ramklub, maar ons beoog om ’n ooiklub ook te stig en dan die ooie deur die hele reproduksieproses te beoordeel tot waar ons kan sien hoeveel lammers elke ooi per hektaar gespeen het en hoeveel kilogram vleis sy per hektaar geproduseer het."
Volledige beoordeling
Verlede jaar, toe hulle weer begin het om die kompetisie te hou, het hulle net die ooie genotipies beoordeel op die hand en oog, maar vanjaar het hulle dieselfde formaat gevolg as die landbouvereniging van Napier wat vanjaar vir die 49ste jaar hul evaluering gehou het.
Dit beteken dat hulle behalwe die dier se eienskappe en ekonomiese data ook die drakrag, skoonopbrengs en wolprys in berekening bring om ’n kudde te beoordeel.
Ongelukkig is landboutoestande nie gunstig nie. Volgens Steenkamp is hulle besig om hul vee ten duurste te voer vanweë die droogte. Hulle het onlangs weer 12 tot 22 mm reën gehad, maar dis baie koud.
"Die lusern begin darem al sodanig bot dat ons klein troppies skape op die lande kan sit. As daar nou genoeg reën kom, gaan ons Augustus-September goeie weiding hê."