Mnr. Tom Vilsack, Amerikaanse minister van landbou, het luidens ’n berig in Successful Farming $250 miljoen (sowat R3,7 miljard) beskikbaar gestel om plaaslike kunsmisproduksie te ondersteun om boere in sy land teen stygende insetkoste te beskerm.
Dié stap volg op die grootskaalse ontwrigting wat die Russiese inval in Oekraïne in voedsel- en landbou-insetmarkte wêreldwyd veroorsaak het.
Oekraïne het reeds vroeër die uitvoer van landbouprodukte, soos koring, mielies en sonneblomolie, begin beperk weens die Russiese inval, en oor die naweek van 12 Maart het dié land se regering ’n algehele verbod op die uitvoer van kunsmis geplaas.