Riglyne vir kunsmisgebruik moet hersien word om volhoubare produksiestelsels te verseker, het dr. Johan van Biljon, projekdirekteur van Africa en Farmsecure, op die Misstofvereniging se tegniese simposium by die WNNR in Pretoria gesê.
Met ’n geskatte bevolkingsaanwas van tot 10% teen 2050 en ’n toename in lande met ‘n waterskaarste (20 tot 52), moet voedselproduksie met 70% verbeter vir voedselsekerheid teen 2050, aldus die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie.
“Daar is net 40 jaar tyd daarvoor. Dit beteken navorsers en landboukundiges se werk is uitgestippel.”
Die vraag word gevra of ’n toename in produktiwiteit nog moontlik is. “Dit word bereken dat mielie-oeste van tot 30 t/ha moontlik is (die wêreldrekord staan reeds op bykans 27 t/ha). Vir sojabone is ’n rekord van 9,8t/ha behaal van ’n gemiddelde syfer van net meer as 4t/ha.”
Van Biljon sê volledige grond- en plantontledings, asook kalibrasiestudies vir die toediening van “die regte kunsmis op die regte plek teen die regte hoeveelheid op die regte tyd”, is egter dringend nodig in Suid-Afrika om drempelwaardes vir die verskillende mikro-voedingstowwe in die grond en die plant self te bepaal.
Die produksie van mielies in die land het in die laaste 90 jaar met sowat 760% verbeter, maar die toename in opbrengs beteken meer voedingstowwe word uit die grond geneem.
5 September 2011