
Kunsmispryse het sedert die afvuur van die eerste missiele in Oekraïne weer die hoogte ingeskiet nadat dalings sedert die begin van die jaar begin voorkom het. Kunsmispryse het sedert verlede jaar om verskeie redes skerp gestyg.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê voor die oorlog het baie maatskappye verwag dat kunsmispryse gaan begin daal. Die stikstofprys het binne ’n kort tydperk met sowat 20% gedaal. “Toe dinge omdraai, is daai 20% weer binne ’n kort tyd opgemaak.”
Mnr. Koos Blanckenberg, voorsitter van Graan SA se spesiale werkgroep vir kanola en ’n boer van die Wes-Kaap, sê as voorbeeld het die prys van twee van die kunsmisprodukte wat hy gebruik, op ’n jaargrondslag met onderskeidelik 65% en 84% gestyg.
Volgens Louw meld boere stygings van 50% tot 100% by hulle aan. “Hoewel dit steeds baie hoog is, is dit steeds nie die meer as 140%-styging wat ons ten opsigte van internasionale pryse sien nie, en daarvoor moet ons die plaaslike kunsmismaatskappye bedank.
“Die maatskappye het iets sien kom en het gesorg dat hulle voorraad bekom sodat hulle ’n voordeel aan produsente kon deurgee. Dit wys dat hulle besef dat hulle as maatskappye en boere vennote in dieselfde bedryf is. Hulle weet as die boer nie oorleef nie, gaan die maatskappy ook nie oorleef nie. Ons wil ons waardering daarvoor uitspreek.”
Blanckenberg sê kunsmismaatskappye wat dalk ou voorraad gehad het en die fosfaat wat wel in Suid-Afrika vervaardig word, kon ook bygedra het.
Kunsmis is nog nie in die lande nie
Hy sê as kunsmismaatskappye nie beplan het nie, sou daar groot probleme gewees het ten opsigte van die wintergraanseisoen. Die waardeketting voel reeds die druk van bestellings wat die afgelope tyd so laat as moontlik gedoen is om die voordeel van laer pryse te kon kry. Die situasie met laat lewerings plaas druk op die voorsieningskettings.
Hy sê hulle sit en wag vir ’n deel van die kunsmis wat bestel is, maar nog op pad na Suid-Afrika is. “Die kunsmis vir planttyd vir die Wes- en Suid-Kaap is nog nie alles hier of in die landerye nie. Van die kunsmis is nog op die skepe en daar is nie ’n waarborg dat dit wel hier sal aankom.”
Louw sê hoewel die maatskappye kon beplan om die impak van plantkunsmis te probeer versag, is die pryse vir bobemesting in die weegskaal.
“Vandag sit ons met ’n olieprys van $132 per vat. Die vervaardiging van stikstof is direk gekorreleer met energiekoste en dié van natuurlike gas, en natuurlike gas se koste is direk gekorreleer met die ruolieprys. Die hoë olieprys gaan beslis pryse beïnvloed.”
Blanckenberg sê die komende winterseisoen gaan vir produsente in sekere gebiede moeiliker wees as ander. “Jou finansiële behoeftes ten opsigte van net kunsmis is nou amper dubbeld. Kunsmis maak van 30% tot 50% van ’n koringboer se lopende produksiekoste uit. Ek twyfel of baie boere dit gaan kan bekostig, want in jou gewone beplanning begroot jy gewoonlik vir ’n verhoging van inflasie plus 10% as gevolg van markonsekerheid, maar die impak van hierdie sprong in pryse is baie groot.”
Benewens die kunsmisprys het die brandstofprys van Maart 2021 tot Maart 2022 met 38% gestyg.