
Klein- en medium-ondernemings, soos boerderye, misluk dikwels al in hul eerste jaar weens swak marknavorsing, 'n gebrek aan sakekennis en die onvermoë om 'n sakeplan saam te stel.
Só sê dr. Marietjie Theron-Wepener, hoof van die Universiteit van Stellenbosch (US) se Kleinsake-akademie (SBA).
Nou ook in Oos-Kaap
Die US se bestuurskool (USB) het onlangs die SBA-program, wat al vier jaar lank suksesvol in die Wes-Kaap bedryf word, ook na die Oos-Kaapse platteland uitgebrei.
“Dit het die broodnodige tekort aan sake-onderrig oorbrug en klein besighede bemagtig en versterk,” sê sy.
Die negemaandelange program sluit onder meer sake-administrasie, finansiële bestuur en bemarking in. Studente word ook geleer hoe om 'n sakeplan op te stel.
Meer as 35% van die Oos-Kaapse bevolking is werkloos, sê mnr. Ayanda Gqoboka, hoof- uitvoerende beampte van die ekonomiese ontwikkelingsagentskap Joe Gqabi (JoGEDA). “In die afwesigheid van voortgesette betekenisvolle belegging en gebrek aan besigheidsinligtingplatforms, word die distrik benadeel deur die toenemende migrasie van mense op soek na werksgeleenthede in naburige stede en metropolitaanse gebiede.”
Dis waarom dit noodsaaklik is om die eienaars van klein-, medium- en mikro-ondernemings se sakekennis op te skerp.
Broodnodige vaardighede
Mnr. Tansanqa Mkumantela van Maclear huur 2 ha grond by die Elundini-munisipaliteit waarop hy met varke boer wat hy aan plaaslike slagters, straatverkopers, restaurante en huishoudings verkoop. Hy was onder die eerste groep kleinsake-eienaars wat die kursus vandeesmaand voltooi het en sê hy sou nooit andersins die bestuurs- en sakevaardighede aangeleer het nie.
“Die program het my geleer om meer gefokus te wees. Ek het noodsaaklike sakekennis aangeleer, soos die belangrikheid van afsonderlike rekeninge vir persoonlike en besigheidsgebruik, hoe om 'n sakeplan op te stel en om die verskil tussen advertensies en bemarking te verstaan.”
Mnr. Lawrence Maduna, ’n veeboer wat sewe mense permanent en 10 mense deeltyds in diens neem, boer op 771 ha naby Lady Grey. Danksy die program is hy nou rekenaargeletterd. Die rekenkundige en finansiële kennis stel hom ook in staat om nou saam met sy boekhouer te werk.
Die SBA-ontwikkelingsprogram word geborg deur JoGEDA, die Oos-Kaapse ontwikkelingskorporasie, departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme en die USB.
Besoek USB of kontak Benjamin Matshoba by 021 918 4379 vir meer inligting of om in te skryf vir die kursus.