Opgewondenheid heers binne landboukringe oor ’n Agri HUB wat vir opleiding oor ’n breë vlak in die landbou beplan word, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA.
Die projek het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se stempel van goedkeuring gekry.
Meintjes sê hulle het onlangs met Joemat-Pettersson vergader, en sy is baie ingenome met die projek. Toekomstige vergaderings met die opleidingsafdeling van dié departement is in die vooruitsig, sodat die organisasie kan verseker dat die studiemateriaal reg saamgestel en kursusgangers sodoende die nodige akkreditasie kan ontvang.
Die projek sal deur private finansiering gedryf word, en die beoogde perseel daarvoor is buite Cullinan geleë.
Drie groepe vir opleiding
Met behulp van die projek hoop die organisasie om opleiding aan drie verskillende groepe te bied. Meintjes sê hulle wil ’n kollege daarstel vir boere of voornemende boere wat nie ’n graad 12-kwalifikasie het nie, om hulself te kan oplei. Tweedens is die fokus op mense wat van plase afgesit word en steeds ’n toekoms in die landbou wil hê. Derdens wil hulle kursusse oor gevorderde tegnologie aanbied, om bestaande boere te help om hulself te verbeter.
’n Groot fokus sal ook op “stedelike landbou” val, met video-insetsels wat byvoorbeeld mense, wat vrae het oor hoe om groente in ’n groentetuin te plant, te help. Dié video-insetsels, wat na beplanning op die internet, selfone en DVD’s beskikbaar sal wees, sal kort en bondig wees.
Maak verskil in die landbou
“Almal van ons moet deesdae ’n verskil maak in die landbou, en met dié projek hoop ons om ’n groot verskil in die bedryf en die land te maak,” sê Meintjes. “Ons wil dié projek as ’n toonvenster vir die landbou gebruik wat bewusmaking van die hele bedryf kan bevorder.”
’n Bemagtigingsbeen en ’n mark vir informele handel word ook beplan. Meintjes sê hulle wil ook die HUB aan die publiek oopstel, sodat jan alleman wat meer oor landbou wil leer, dit kan besoek.
Die organisasie was reeds met die Universiteit van Pretoria, verskeie landbou-ondernemings en die SAUK in kontak oor die projek “en almal vra vir ons wanneer kan hulle deel raak,” vertel Meintjes.
23 April 2012