Die kwarantyn waaronder Karan Beef vir bek-en-klouseer geplaas is, is opgehef. Dié aankondiging is Woensdag (13 April) by die voerkraal buite Heidelberg in Gauteng gemaak.
Dr. Dirk Verwoerd, die voerkraal se veearts, sê die kwarantyn is opgehef nadat intensiewe toetse negatiewe resultate gelewer het. Die voerkraal is aanvanklik onder kwarantyn geplaas nadat serologiese toetse vir bek-en-klouseer positiewe resultate opgelewer het.
Die diere wat positief getoets het, het die voerkraal in die distrik Vryheid gekoop en 1 750 diere is onmiddellik geslag. Die week nadat die kwarantyn ingestel is, is dit gedeeltelik opgehef nadat toetse negatiewe resultate gelewer het. Die voerkraal is, volgens die staat, moontlik vir die eerste keer in die land se geskiedenis toegelaat om onder streng protokol met sy bedrywighede voort te gaan.
Baie gunstige terugvoering
Dr. Malcolm Budé, hoofdirekteur van veeartsenydienste in Gauteng, het Karan Beef geprys vir sy flinke optrede ná die aanvanklike positiewe toetse: “Ons wens Karan Beef geluk met sy uitstekende samewerking en vir sy tydige en voorkomende benadering.”
Budé sê die voorval was ’n goeie voorbeeld van hoe die staat en die bedryf kan saamwerk. Hy meen die bek-en-klouseer-uitbreking in die land is tans onder beheer en sê die department het reeds met die toetsproses begin as deel van die eerste stappe om die land se bek-en-klouseer-vrye status te probeer terugkry.
13 April 2011