Die transaksie waar Pioneer Foods die Paarlse drankmaatskappy KWV wou koop, is na alle waarskynlikheid van die baan.
Landbou.com het vertroulik verneem die KWV se direksie het gisteraand die aanbod van die hand gewys. Mnr. Thys Loubser, hoof- uitvoerende beampte van die KWV, het gesê hy kan weens wetlike vereistes nie kommentaar lewer op die gerug nie.
Hy het bygevoeg dat die Sens, die Johannesburgse Effektebeurs se inligtingsdiens, dopgehou moet word vir meer inligting.
Die voorsitter van die subkomitee wat Pioneer Foods se aanbod waardeer het, adv. Fran du Plessis, het gevra dat Landbouweekblad se navrae met “ ‘n dag of wat” uitgestel word.
“Ek kan nie in my persoonlike hoedanigheid kommentaar lewer nie, en ons het besluit om deur die raad en die maatskappy met die media te kommunikeer.” Me. Hymli Krige, die KWV se woordvoerder, wou “in dié stadium niks bevestig nie, maar ‘n mediaverklaring sal vandag of môre uitgereik word”.
Die besturende direkteur van Pioneer Foods, mnr. André Hanekom, het vroeg vanoggend bloot gesê: “Pioneer Foods weet nie daarvan nie.”
Die aanbod
Pioneer Foods het die KWV R12 per gewone aandeel, met die opsie om te verminder tot R11 per gewone aandeel afhangend van KWV se finansiële prestasie, aangebied.
Lees ook:
‘n KPMG-waardasie verlede week het egter die waarde op baie hoër as R12 beraam. Intussen het die KWV vandag ook ‘n handelsopdatering in die media gepubliseer waarin bekend gemaak word dat die maatskappy se netto wins vir die ses maande tot 31 Desember 2010 na alle waarskynlikheid tussen 60% en 70% laer sal wees as vir die vergelykende tydperk ‘n jaar gelede.
Wesensverdienste sal waarskynlik tussen 75% en 85% laer wees. Dit word toegeskryf aan die sterker rand en swak handelstoestande in die Europese Unie. Dié inligting is nie deur eksterne ouditeure hersien nie.
Die KWV het ook nie nodig gehad om dit te publiseer nie, aangesien die maatskappy nie op die JSE genoteer is nie.
Besluit verwelkom?
Mnr. Danie de Wet, voormalige voorsitter van die KWV wat die voorgenome transaksie tussen Pioneer en KWV eens as ‘n “broeksak-gatsak”-transaksie beskryf het weens die verstrengeldheid van eienaarskap tussen die twee maatskappye, het die besluit verwelkom.
Volgens hom is dit “fisies onmoontlik dat buitengewone omstandighede soos die wisselkoers die KWV se waarde só kon beïnvloed. Wat het die direksie gedoen om dit reg te stel?”
Hy sê hoewel die veldslag gewen is, is die oorlog nog nie verby nie.
“My vraag bly steeds: Hoeveel tyd is daar in direksievergaderings afgestaan aan die Pioneer-transaksie? Die direksie se oë was van die bal af, en hulle het die bestuur gedestabiliseer. Verder het hulle onsekerheid geskep vir die mense wat by die KWV werk en nie geweet het waar hulle môre gaan werk nie.”
Die publikasie Business Day het gister berig minderheidsaandeelhouers in die KWV het die koppe van direksielede mnre. Thys du Toit, Jannie Mouton, Antonie Jacobs en adv. Fran du Plessis geëis en ‘n beroep gedoen dat hulle van die raad bedank.
‘n Internasionale hoof van Halewood Internasionaal, die Britse drankgroep wat ook sy bedoeling om ‘n aanbod vir die KWV skriftelik bekend te maak, kom na bewering môre vanuit Londen in Suid-Afrika aan om met die KWV te vergader.
Loubser het gesê die proses om te bepaal of Halewood se aanbod “reg” is, is steeds aan die gang.
Lees meer in die komende uitgawe van Landbouweekblad.
2 Februarie 2010