
Minibus- en vragmotorbestuurders
het sedert Woensdag verskeie roetes in en uit Mpumalanga, veral in die omgewing
van Mbombela (Nelspruit) se sakekern, versper.
Hy sê die versperring van paaie gebeur sonder waarskuwing, wat dit vir boere uiters moeilik maak om die vervoer van hul vragte en ander noodsaaklike ritte te beplan. “Hierdie tipe ontwrigting van die ekonomie grens aan sabotasie. Tesame met die groot ontwrigting wat reeds deur beurtkrag veroorsaak word, plaas die doelbewuste afsper van noodsaaklike roetes deur misdadigers die landbousektor onder verdere druk.
“Die vraag kom onwillekeurig op waarom hierdie misdadigers nie met soortgelyke magsvertoon verwyder word as waarmee skadelose individue tydens die covid-19-pandemie deur die polisie van strande verwyder is nie. Nie net die landbousektor nie, maar alle sektore van die ekonomie is afhanklik van behoorlike en konsekwente toepassing van wet en orde deur die verantwoordelike partye.”
Mnr. Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier in Mpumalanga, sê daar moet opgetree word teen diegene wat ontwrigting veroorsaak deur hul deelname aan dié protes, glo teen stygende brandstofpryse.
“Die VF Plus dring daarop aan dat inwoners van Mpumalanga se regte op vryheid van beweging en handel beskerm word om ’n voortbestaan vir almal te verseker. Naas die publiek se persoonlike veiligheid moet ekonomiese veiligheid ook ’n prioriteit wees.”
Hy sê gemeenskapslede vanuit Mbombela, Barberton, Matsulu, Ngodini, Hazyview, Witrivier en omliggende gebiede het intussen by die betoging aangesluit. “Die meeste sake-ondernemings kon sedert Woensdag nie oopmaak nie, aangesien werknemers nie by die werk kon uitkom nie.
“Hierdie betogings en die sluit van nasionale en provinsiale paaie in die provinsie beïnvloed die ekonomie uiters nadelig aangesien klein en groot sakeondernemings sukkel om in sulke omstandighede te funksioneer.
“Almal in die provinsie voel steeds die gevolge van die covid-19-pandemie en hierdie betogings kan nie bekostig word nie.”