Swerms voetgangersprinkane “vloei” soos riviere op verskillende roetes in die Oos-Kaap.
Mnr. Phillip Kemp, die spuitoperateur in die distrik Graaff-Reinet, sê somerneerslae wat in September van 7 mm tot 30 mm gewissel het, het ’n sprinkaanplaag veroorsaak wat nou ernstige afmetings aanneem.
Graaff-Reinet het die naweek van 6 en 7 November neerslae van 40 mm tot 50 mm aangeteken en hy het tot 70 mm op sy hoewe gemeet.
Een van die roetes waarop dit vandag van die jong voetgangers gewemel het, is die R75 tussen Graaff-Reinet en Jansenville. Op die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg was gister ’n see van swart voetgangers van sowat 1 000 meter by 40 m. Die voetgangers verkleur swart kleur net voor die oorgang na die rooibaadjiestadium, wanneer die sprinkane begin vlieg.
Kemp het onder meer ses swerms op die plaas Doornberg van mnr. Peet van Heerden in die distrik Nieu-Bethesda bestry en sy assistent wat in die distrik aangestel is, het vroeër vandeesweek swerms op die plaas Wilgerbos bestry.
Van die probleme wat hy ondervind, is beperkte mannekrag, maar drie nuwe aanstellings bring sy span op vier te staan.
Mnr. Dave Stern, voorsitter van die Sneeuberg-boerevereniging, het die sprinkaanbeamptes vir hul spoedige optrede geloof om die insekte te bestry voordat hulle die vlieërstadium bereik. Hy sê die eerste voetgangerswerms wat begin Oktober uitgebroei het, is vinnig in die kiem gesmoor, aangesien daar toe nog geen weiveld was nie. Die gebied noord van Graaff-Reinet het eers sowat ’n week gelede begin reën kry. Dit beteken meer kos vir die sprinkane, wat die bestryding bemoeilik.
Sprinkane kom wyd voor
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die sprinkaanplaag is nou erg. “Nie net in die Noord-Kaap nie, maar ook in die Oos- en Wes-Kaap. Dit sterk van Willowmore af, deur die Noord-Kaap van Vosburg en Prieska en Carnarvon en oor die grens na Somerset-Oos en nader na my tuiste by Merweville, Philipstown en Hopetown tot in die Wes-Kaap by Steytlerville, Beaufort-Wes deur Upington tot in die Kalahari is met sprinkane besmet.”
Volgens Jansen is die opleiding van die spuitspanne gedoen en die gif is beskikbaar. “Daar is hier en daar haakplekke waar nie voldoende toerusting en kontrakte beskikbaar is nie, maar Agri Noord-Kaap gee aandag daaraan.”
Volgens Jansen ondervind die gebiede ’n baie groter voorkoms van sprinkane as vantevore. “Van die voetgangers het die bestryders ontglip. Hulle het die rooibaadjiestadium bereik en kan oor drie weke begin vlieg.”
Boere word aangemoedig om sprinkane wat hulle opmerk, dadelik by hul plaaslike sprinkaanbeamptes aan te meld sodat spoedig opgetree kan word.