Kynoch Kunsmis het ’n ooreenkoms met Sasol Chemical Industries aangegaan om sy Endicott vloeibare kunsmisonderneming te koop. Luidens ’n verklaring is die ooreenkoms Maandag (9 Mei) bekend gemaak.
Die ooreenkoms is tans onderhewig aan regulatoriese goedkeuring deur die mededingingsowerhede. Die onderneming se produksiefasilteite is naby Delmas op die Oostelike Hoëveld geleë.
Ligging is belangrik
Mnr. Gordon Hesom, Kynoch se hoof uitvoerende beampte, sê die doeltreffende verspreiding van vloeibare kunsmis neig om gelokaliseerd te wees rondom fabrieke en strategiese punte in die verskillende geografiese markgebiede.
“Om hierdie rede is die fasiliteit wat oorgeneem word ’n ideale toevoeging tot ons huidige vloeibare kunsmis-reikwydte. Boere wat deur die fabriek bedien word, asook ander boere in die omgewing, kan verseker wees dat hulle eersteklas-produkte, -diens en -advies sal ontvang,” aldus Hesom.
Die fabriek- en verkoopspersoneel van die onderneming sal deur Kynoch oorgeneem word.
10 Mei 2011