
’n KwaZulu-Natalse boer het as skulderkenning ’n administratiewe boete van R1,77 miljoen aan die departement van water en sanitasie betaal nadat bevind is hy het besproeiingswater aan die Wagendriftdam onttrek sonder dat hy ’n watergebruikslisensie gehad het.
Luidens ’n verklaring deur die departement het sy afdeling vir voldoening, monitering en wetstoepassing aanvanklik gevind die boer, mnr. Roy Clifford Braithwaite van die plaas Redlands in die distrik Estcourt, het ’n onttrekkingspunt gebruik waarvoor daar nie ’n vloeimeter geïnstalleer is nie. Die water wat onwettig onttrek is, is volgens die verklaring vir die besproeiing van Braithwaite se gewasse gebruik.
Die Wagendriftdam val onder die Boesmansrivier-staatswaterskema en verskaf vars water vir huishoudelike, landbou- en nywerheidsgebruik in en om die dorpe Estcourt en Weenen.
Me. Thandi Mopai, direkteur van voldoening, monitering en wetstoepassing by die departement, sê Braithwaite het kennisgewings ontvang om sy onwettige wateronttrekking stop te sit. Nadat Braithwaite dié opdrag skynbaar geïgnoreer het, het die departement die Estcourt-landdroshof genader om Braithwaite se nakoming af te dwing.
Vermy strafregtelike vervolging
“Die boer het deur sy regsverteenwoordiging die departement genader en ingestem om as skulderkenning ’n administratiewe boete van R1 770 392,75 binne 45 dae te betaal om strafregtelike klagte te vermy. Die departement sal voortgaan in sy pogings om onwettige en ongemagtigde watergebruik uit te roei, aangesien dit ’n nadelige uitwerking op die lewensbestaan van die bevolking het wat watervoorsiening betref,” sê Mopai in die verklaring.
Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van die KZN Landbou-unie (Kwanalu), sê die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) maak voorsiening daarvoor dat waterbronne op ‘n volhoubare en billike wyse beskerm, gebruik, ontwikkel, bewaar en bestuur word. Kwanalu is bekommerd dat onwettige watergebruik implikasies vir die landbou- en landelike sektor kan inhou.
“Oor die jare is daar baie frustrasie uitgespreek oor die administratiewe prosesse, die gebrek aan of swak kommunikasie, baie hoë koste en ander probleme waarmee produsente te kampe het betreffende onder meer watergebruikslisensies, damlisensies en die validerings- en verifikasieproses.
“Om tot voedselsekerheid, veilige voedsel, indiensneming en ander doelwitte by te dra, benodig die landbousektor skoon en genoeg water. Produsente moet verantwoordelike rekenskap vir hul watergebruik gee en terselfdertyd moet die departement van water en sanitasie ook stappe doen om te verseker dat waterbronne beskerm en veilig vir gebruik is.”
Braithwaite wil nie kommentaar lewer nie.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.