Boere in die Newcastle-omgewing in KwaZulu-Natal beraam nog die skade van die veldbrand wat gister (22 September) deur dié gebied beweeg het. Luidens ‘n berig op IOL is die brand teen 7:00 onder beheer gebring.
Die Newcastle Boerevereniging sê sowat 200 ha weiding is verwoes. Hoewel diere in die brand omgekom het is geen beserings aan mense aangemeld nie. Volgens brandbestryder mnr. Mxolisi Khoza is sewe veeboere deur dié brand geraak.
Warm, droë weersomstandighede het tot die brand se verspreiding en erns bygedra aangesien temperature in die noorde van die provinsie tot 34 grade Celsius gestyg het met slegs 10%-humiditeit. Volgens mnr. Lucky Makhwedza, weervoorspeller, behoort temperature vandag sowat 26 grade Celsius te bereik terwyl humiditeit tot 40% sal styg.
22 September 2010