
Langverwagte goeie reën het oor groot dele van KwaZulu-Natal uitgesak. Alhoewel baie damme se vlakke begin styg en graanboere reeds ver weg geplant het, is die droogte en die skade wat dit berokken het, nog nie uitgewis nie.
Volgens mnr. PJ Hassard, voorsitter van die Hluhluwe-boerevereniging en beesboer van die distrik, het in hul omgewing van 80mm tot 120mm reën sedert die begin van November uitgesak. “Die veld is stadig besig om te herstel, maar dit reën mos nie gras nie. As ons gelukkig is, sal ons veld teen die einde van die jaar genoegsaam herstel het om ons toe te laat om diere op te hou voer,” sê Hassard.
Die Hluhluwe-dam het volgens Hassard oor die afgelope drie weke met meer as drie persentasiepunte geklim tot 23%. Die Bivane-dam, wat die Impala Watergebruikersvereniging se besproeiingskema in Pongola voed, het van 4 tot 14 November met 5,5 persentasie punte gestyg tot by 23,3%, volgens me. Thea van Zyl van die vereniging. Besproeiingsboere van Pongola is al vir meer as ’n jaar op bestuurde waterbeperkings om die vlak van die dam, wat ook water aan die Pongola dorp moet voorsien, so goed as moontlik te bestuur.
Graan reeds 60% geplant
Graanboere van KwaZulu-Natal haal weer asem ná ’n moeilike seisoen verlede jaar waar sommige boere goed gedoen het, maar ander, weens wisselvallige reënval, erg skade gely het, volgens mnr. Ralf Küsel, graanboer van Luneburg en Graan SA se verteenwoordiger in KZN.
“Die reën die afgelope drie weke het ook in strepe voorgekom. Hier by my het ongeveer 100mm oor die afgelope twee weke geval, terwyl my buurman bykans 130mm gekry het waarvan 40mm in ’n halfuur geval het. As jy net 60km suid ry, tot by Vryheid, lyk dit haglik. Die dorp is al vir maande sonder water en die Vryheid-dam is steeds dolleeg.
“So, hoewel plekke goed reën gekry het en die provinsie seker al na-aan 70% van al die graan in die grond het, is daar steeds areas wat in groot moeilikheid is. Met baie van die graanboere gaan dit nou goed, maar die seisoen is nog lank en oor drie weke, as dit nog nie weer gereën het nie, sal jy seker van ons ook weer hoor, want die ondergrond is nog kurkdroog en die besproeiingsdamme is steeds leeg.”
* Lees ook: Swaar reën oor dele van Noord-Vrystaat