
Luidens ’n verklaring van die KwaZulu-Natalse polisie is die onderwyser aangekeer terwyl hy drie gesteelde beeste tussen Ntsikeni en Franklin vervoer het. Die Kokstad-veediefstaleenheid het bevestig dat dié diere van ’n plaas in die distrik Franklin gesteel is. Hulle is daarna aan hul wettige eienaar terugbesorg.
“Die verdagte, wat in die distrik Ndwedwe woon, maar in die distrik Ntsikeni skoolhou, is in hegtenis geneem vir beweerde veediefstal en het gister (Maandag 4 April) in die Kokstad-landdroshof verskyn,” sê lt.kol. Nqobile Gwala, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder.
Volgens Gwala is drie mans in ’n ander operasie van die Kokstad-veediefstaleenheid in die distrik Evatt in hegtenis geneem terwyl hulle 13 beeste aangejaag het. Plaaslike boere en ’n private sekuriteitsfirma het die polisie bygestaan. Daar is vasgestel dat dié beeste vroeër in Maart in die distrik Ntsikeni gesteel is en na bewering op pad na Lesotho was.
“Drie verdagtes tussen die ouderdom van 16 en 21 is in hegtenis geneem vir beweerde veediefstal. Hulle is ook ingevolge die Immigrasiewet (Wet 13 van 2022) aangekla aangesien hulle onwettig in Suid-Afrika was. Die gesteelde beeste is aan die wettige eienaar terugbesorg. Die verdagtes het op 1 April in die Umzimkhulu-landdroshof verskyn en is tot 6 April in aanhouding om in die Ntsikeni-landdroshof te verskyn.”
Rompslomp vermy
Mnr. Freddie van Tonder, Kwanalu se hoof van veiligheid en sekuriteit, het die inhegtenisnemings en terugvind van die gesteelde beeste verwelkom. Hy waardeer ook die feit dat die beeste wat vir Lesotho bestem is, opgespoor is vóór hulle die internasionale grens oorgesteek het, weens die moeilike en tydrowende burokratiese prosesse wat tussen Suid-Afrika en Lesotho se wetstoepassingsagentskappe vereis word om gesteelde vee op te spoor. Dié prosesse veroorsaak dat vee wat in Suid-Afrika gesteel is en daarna in Lesotho opgespoor word, in sommige gevalle nooit aan hul Suid-Afrikaanse eienaars terugbesorg word nie.
“Suid-Afrika se vee-eienaars moet onthou Paasfees is om die draai en veediefstal neig om hierdie tyd van die jaar drasties toe te neem. Skape en bokke word die algemeenste gesteel vir slag in kulturele praktyke, maar beeste word ook gesteel om die vraag na vleis tydens ander Paasfeesvieringe te voorsien. Baie van hierdie vee word eintlik op bestelling vir kopers gesteel. Boere moet ekstra waaksaam wees.”