
Slegs ses van die 29 boerderye in KwaZulu-Natal wat deur die Minister van Arbeid, me. Mildred Oliphant, besoek is, het met ’n skoon rekord daarvan afgekom.
Oliphant het einde April 29 plase in KwaZulu-Natal besoek om vas te stel of boere gehoor gee aan arbeidswette.
Mnr. Lungelo Mkamba, kommunikasiehoof van KZN se departement van arbeid, sê die departement is bekommerd oor omstandighede van plaaswerkers in die provinsie. “Die behuising van plaaswerkers op sommige plase wat ons besoek het, was skokkend en wek groot kommer. Ons het kennisgewings aan die boere oorhandig wat uitspel wat op die plase moet verbeter word. Ons sal hierdie kennisgewings opvolg sodra die tydperk wat elke boer gegun is om aan die wette gehoor te gee, verstryk. Indien die wetlike voorskrifte steeds nie nagekom word nie, sal die departement vervolging aanbeveel.”
Kwanalu is ingelig
Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, is deur die Departement bewus gemaak van die besoek aan die provinsie. “Die departement het nog altyd goeie terugvoer gehad oor die nakoming van arbeidswette in die provinsie. Opleiding oor die verskillende wette en die interpretasie daarvan is uiters belangrik. Hierdie besoek van die minister moet gesien word as ’n geleentheid vir beide werkgewers en werknemers om met die departement te skakel op so ’n wyse dat groei en vooruitgang in werkplek seëvier.”
Volgens ’n verslag van KZN se departement van arbeid, was meeste van die oortredings wat tydens die besoek opgelet is, die wanbetaling van bydraes aan, of geen registrasie by die werkloosheidsfonds nie. Drie van die werkplekke wat besoek is, het ook nie die nodige veiligheidsklere en opleiding aan werkers verskaf wat gifstowwe hanteer nie. Vier van die werkgewers het nie aan die minimum loon voldoen nie. By een werkgewer is buitelanders sonder die nodige dokumentasie gevind en hierdie werknemers is deur die immigrasie-owerhede in hegtenis geneem.