’n Wispelturige La Niña-verskynsel laat boere én weervoorspellers die laaste weke erg naels kou.
Die soort neerslae wat van ’n tipiese La Niña-verskynsel verwag kan word, het in die eerste week van Februarie oor die grootste deel van die somergraan-produksiegebied weggebly.
Droogte begin reeds sy tol eis. Die meeste mielies gaan binne die volgende twee weke die kritieke blomstadium bereik. Daarin is die plante kwesbaar vir droogteskade. Blywende skade aan somergewasse, veral mielies, kan daagliks groter afmetings begin aanneem, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.
Hy sê produksietoestande vir somergrane is vinnig aan die verswak. Hoewel reën in die volgende twee weke nog kan help om die mielie-oes te stabiliseer, sal die totale oes reeds weens dié skade kleiner wees, meen Van den Berg.
Ryprisiko groot
Daarby is die risiko van ryp vanjaar groot. Tradisioneel bring ’n La Niña nie vroeë ryp nie, maar die ryprisiko bly groot omdat aanplantings besonder laat was. Selfs al verloop toestande die res van die seisoen gunstig, meen Van den Berg daar gaan beslis nie meer as 12 miljoen ton mielies geoes word nie.
Die vraag is nou of die heersende La Niña-verskynsel die res van die seisoen wel bogemiddelde neerslae gaan bring. Volgens voorspellings kan somergraanboere nog heelwat reën tot voor die winter verwag.
Maar voorspellers is nie so seker nie. Van den Berg sê vanjaar se La Niña-verskynsel het nog nie die normale Suid-Afrikaanse patroon gevolg nie. Dit lyk egter of die verskynsel nou in Australië en Suid-Amerika op dreef kom.
Dié vastelande is die afgelope tyd deur onderskeidelik vloede en droogte geteister. Ernstige vloedskade het sedert begin Februarie in dele van die Australiese state Queensland en Nieu-Suid-Wallis voorgekom.
Dit is wel tipies van ’n La Niña, maar veel later as wat voorspellers verwag het. Van den Berg meen daar is gewoonlik ’n sterk verband tussen vloede in Australië en daaropvolgende bogemiddelde neerslae in Suid-Afrika se somerreënstreek.
Hy waarsku dat dit lyk of die La Niña-verskynsel se oorheersing van weerpatrone die afgelope paar seisoene ’n keerpunt bereik. Daar is wel ’n kans dat die verskynsel vanaf die 2012/’13 vir ’n El Niño-verskynsel sal plek maak, wat ’n droër siklus vir Suid- Afrika se somerreënstreek kan inlui.
14 Februarie 2012