
Neutrale toestande heers tans in die Stille Oseaan-gebied, waar see-oppervlaktemperature op die stand van El Niño of La Niña dui. Voorspellers meen nou dat daar ’n 48% kans is dat El Niño weer teen ons lente (September tot November) kan begin oorheers. Hulle gee ’n neutrale stand van sake teen daardie tyd ’n 40% kans, en nog ’n La Niña net ’n 12%-kans.
Hulle benadruk egter dat die sekerheidsgraad van dié soort voorspellings vir hierdie tyd van die seisoen relatief laag is. “Rekenaarmodelle (en menslike voorspellers) sukkel baie om die toekoms te voorspel as die Maart tot Mei-periode nog in die pad is.
Om die waarheid te sê, ’n voorspelling wat in Junie oor die see-oppervlaktemperatuur in Desember (ses maande vooruit) gemaak word, kan meer suksesvol wees as ’n voorspelling wat in Februarie vir Mei (drie maande vooruit) gemaak word,” verduidelik dr. Emily Becker van die Amerikaanse klimaatagentskap NOAA.
Die rede hiervoor is dat die noordelike lente en die RSA se herfs dikwels ’n oorgangstyd is, wanneer El Niño of La Niña in intensiteit afneem, en neutrale toestande begin heers. In kort: Dit is moeiliker om die verandering na ’n nuwe fase te voorspel, as om die groei, voortsetting of afsterf van ’n El Niño of La Niña te voorspel, sê Becker.