
Landboubesighede dreig munisipaliteite met optrede indien Eskom in die volgende paar weke sou voortgaan met sy beoogde kragonderbrekings weens wanbetaling deur sommige munisipaliteite.
Mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, het sy kommer skriftelik aan munisipaliteite oorgedra en hulle kennis gegee van moontlike aksies wat geneem sal word teen munisipaliteite indien kragonderbrekings tot finansiële verliese vir Senwes sou lei.
Hy sê Senwes is die grootste belastingbetaler asook werkverskaffer in die meeste van dié dorpe in hul gebied en die gevolge sal rampspoedig wees. Hy sê graansilo’s is byvoorbeeld afhanklik van krag om optimaal te kan funksioneer.
“Hoewel Senwes reeds stappe gedoen het om by strategiese silo’s kragopwekkers te installeer, sal die moontlikheid van kragonderbrekings by sekere munisipaliteite uiters ontwrigtend wees vir die silo’s in daardie betrokke munisipaliteit, wat weer kan lei tot finansiële verliese vir Senwes.”
Mnr. Ertjies Jacobs, NWK se hoofbestuurder: strategiese projekte, sê 'n groot persentasie van elektrisiteit op die platteland word deur landboubesighede en hul werknemers verbruik, wat hul rekeninge betaal en nou gestraf gaan word. Hy sê hulle wou al direk elektrisiteit van Eskom probeer kry, maar munisipaliteite wil dit nie toelaat nie. “Daarom dink ek dit is ’n uitstekende gedagte dat elektrisiteit in die toekoms op die platteland deur Eskom bestuur word.”
Strydom sê die tydelike oorname van kragvoorsiening en invordering aan Eskom se kant sal verseker dat kragvoorsiening “gewaarborg” is. “Aan die ander kant is elektrisiteitsverkope die grootste bron van inkomste vir munisipaliteite. Indien munisipaliteite hierdie inkomste verloor, sal die lewering van ander basiese dienste in die slag bly. Vir Senwes is dit belangrik dat munisipaliteite die nodige basiese dienste moet lewer wat ’n goeie klimaat kan skep vir besighede om handel te dryf.”
Mnr. Tinus Prinsloo, senior besturende direkteur van Afgri Agri Services, sê kragonderbrekings sal nie net hul eie ondernemings regstreeks nadelig raak nie, maar sal ook hul kliënte, veral besproeiingsboere, beslis nadelig raak.
Mnr. Jacob de Villiers, besturende direkteur van Afgri Grain Management, sê Suid-Afrika 'n goed gevestigde kommoditeitsmark wat baie staatmaak op die behoorlike funksionering van die mark vir afgeleide instrumente, wat op sy beurt daarop staatmaak dat verskaffers van bergingsgeriewe hul verpligtinge betyds kan nakom. “ 'n Afname in die betroubaarheid van kragvoorsiening sal sekerlik 'n nadelige invloed hê op verskaffers van bergingsgeriewe se vermoë om hul verpligtinge na te kom en kan waarskynlik op die lang termyn 'n invloed op die integriteit van die bedryf hê.”
De Villiers sê onderbrekings kan ook uitvoer raak – uitvoerpermitte, wat deur 'n omslagtige proses uitgereik word, is net vir 'n sekere tydperk geldig. “Sou kragvoorsiening onderbreek word, kan dit die vermoë van rolspelers in die bedryf in gevaar stel om hul kontraktuele verpligting in die verband na te kom.”
De Villiers sê sou daar kragonderbrekings in oestyd wees, kan die nagevolge selfs groter wees. Dit sal boere se vermoë om graan betyds aan silo’s te lewer, regstreeks raak, wat boere se pryse kan beïnvloed, en ook hul risiko’s kan vergroot indien die oes langer op die plaas moet bly.
Wat berging betref, kan kragonderbrekings bedrywighede by silo’s wat verseker dat graan vir verlengde tydperke geberg kan word, ongunstig raak, soos die droog, beroking en belugting van graan. De Villier sê ook kragonderbrekings kan tot onnodige onklaarraking van toerusting in silo’s lei, veral as dit gebeur terwyl sekere vervoer- en hysstelsels vrag dra. Kragonderbrekings kan verder ook sekuriteit by ondernemings belemmer.
- Deur Nico van Burick en Carien Kruger