’n Laboratorium waar monsters van volstruise getoets sal word, is op Oudtshoorn geopen.
Met die H5N2-virus wat dreig om die volstruisbedryf lam te lê, sal boere nou geld en tyd kan bespaar deur hul toetse by die laboratorium te doen. Die biotegnologiese maatskappy Deltamune het reeds in April met die SA Volstruisbesigheidskamer onderhandel om só ’n laboratorium in die hartjie van die Klein-Karoo op te rig.
R3 miljoen
’n Ou pakhuis is binne ses maande teen ’n koste van R3 miljoen in die wêreldklas laboratorium omskep. Molekulêre toetse vir voëlgriep en Newcastle-siekte sal op ’n PCR-masjien gedoen word. Monsters van tot 48 volstruise sal per dag getoets kan word.
Me. Claudia Falch, hoof van die laboratorium, sê die spoed waarteen die toetsing nou gedoen kan word, het ’n goeie uitwerking op die bedryf. Daar is sekere tye wat boere die monsters moet instuur om getoets te word soos voor hulle die voëls slag of verskuif sodat die nodige toestemming daartoe verleen kan word.
Regulasies bepaal dat hulle net ’n tydperk van tien dae het vanaf die neem van die monster tot wanneer die volstruis geslag word. “Hoe langer dit duur tot die uitslag beskikbaar is, hoe groter is die boer se kans om sy plek by die slagpale te verloor as die monsters nie almal naspeurbaar is nie."
Inligting gouer uit
Boere bespreek sowat ’n maand voor die tyd plek by die slagplaas om die voëls te laat slag. Falch sê die ander voordeel van die laboratorium op die dorp is dat wanneer voëls positief getoets word vir siektes, kan die inligting gouer na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en aan die bedryf oorgedra word.
By die laboratorium is ook eenhede wat spesifiek sal fokus op die toetsing vir salmonella, enige bakteriologiese siektes, en ook vir bakteriese watertoetse, voer en verwerkte en onverwerkte vleisprodukte.
Mnr. Anton Kruger van die besigheidskamer het met die opening van die laboratorium gesê dat baie tyd en koste nou bespaar gaan word, want monsters hoef nie meer na Pretoria vir toetsing gestuur te word nie.
14 Desember 2011