Die olyfbedryf moet “wakker geskud word” oor goedkoop lae gehalte olyfolie-invoere en die verwringing van die plaaslike bedryf, sê SA Olive.
Mnr. Andries Rabie, voorsitter van SA Olive, sê met die sterk rand is dit een van die grootste probleme wat die bedryf in die gesig staar.
Hy sê baie van die olyfolies wat verwerkers en winkelgroepe tans van oorsee af aankoop voldoen nie aan die standaarde vir byvoorbeeld ekstra suiwer olyfolie nie. “Baie van die produkte word met verwerkte olies gemeng en teen baie lae pryse aangebied en al wat baie aankopers sien is lae pryse.”
Volgens Rabie is die aanvaarde prys vir die laagste graad olyfolie tans tussen R35 en R40. “Baie oorsese aanbieders vra maar tussen R18 en R20 per liter en dit word aanvaar. Dit is soos om vir jou diesel teen R3 per liter aan te bied en jy weet die prys is eintlik R8. Jy gaan mos vrae vra.”
Studie oor gehalte
Volgens Rabie is hulle tans besig om monsters van 32 verskillende olies op winkelrakke te neem sodat dit vir onafhanklike toetse in Australië gestuur kan word. “Ons hoop dat dié toetse die plaaslike mark se oë sal oopmaak oor goedkoop invoere”.
Dié studie is sowat 18 maande gelede in Australië gedoen om te bepaal waaruit goedkoop ingevoerde olies regtig saamgestel is. Rabie sê tydens ‘n soortgelyke studie in Amerika drie maande gelede, is bevind dat 70% van die olyfolies op hulle winkelrakke nie ekstra-suiwer is soos wat op die bottels beweer word nie.
‘n Goeie oes lê voor
Intussen is Rabie baie positief oor die komende seisoen se olyfoes. “Die droogte het nie noodwendig ‘n invloed op die olyfoes nie. Die ouens tref ook maar voorbereidings vir genoeg water. Inteendeel, ten spyte van die droogte lyk die komende oes asemrowend mooi.”
Olyfbome regoor die land is besig om te blom en Rabie sê die bome dra ongelooflik baie bloeisels wat ‘n teken van ‘n goeie oes is. “Die vraag is nou net of boere die regte kruisbestuiwers het, maar die eerste stap in die proses lyk klaar baie goed.”
Rabie skat dat tussen 8 000 en 10 000 ton olywe vir olie gelewer sal word wat sal lei tot die produksie van sowat 1,5 miljoen liter olyfolie. Wat tafelolywe aanbeterf verwag hy ‘n oes van tussen 3 000 en 4 000 ton. Olywe word jaarliks in April en Mei in Suid-Afrika ge-oes.
21 Oktober 2010