
Hoewel die skerp daling in die internasionale prys van ru-olie groot voordele inhou vir wêreldwye ekonomiese groei, is dit egter vir ander bedrywe, soos die vervaardiging van biobrandstof, skadelik, sê mnr. Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom.
Weens die uitwerking van die wisselende prys van ru-olie oor die afgelope dekade gaan die vervaardiging van biobrandstof nou gepaard met baie hoë risiko’s wat pryse aangaan. Die lae olieprys se grootste nadeel is egter die uitwerking wat dit kan hê op pogings om aardverwarming te beperk.
Hernubare energie sal nou baie minder prysmededingend wees, meen Brink, en hoe langer die olieprys laag bly, hoe meer sal dit hernubare energie uit die mark druk. “Klimaatsveranderings wat hieruit voortspruit kan in die nabye toekoms onmeetbare skade aan voedselproduksie in die wêreld aanrig,” sê Brink.
“In die lig van die konsepwetgewing wat verlede jaar deur die Regering oor die verpligte inmenging van biobrandstof en die prysformule aangekondig is, sou die regering teen hierdie prysvlakke vir ru-olie hom natuurlik nou tot buitensporige hoë finansiële ondersteuning moes verbind het omdat hy onderneem het om ’n opbrengs van 15% opbrengs op kapitaal vir biobrandstofaanlegte te waarborg. Dit beteken dat die heffings op petrol en diesel wat ingestel sou word om hierdie finansiële verpligting na te kom, tot so ’n mate verhoog sou moes word wat die bekostigbaarheid en volhoubaarheid daarvan totaal onmoontlik sou maak.”
Plaaliske produsente van oliesade en mielies kan ook negatief geraak word aangesien die pryse van dié produkte internasionaal deur laer biobrandstofproduksie geknou sal word. Biobrandstofaanlegte in, byvoorbeeld, Amerika, sal nie teen die huidige vlakke van die olieprys kan voortgaan met vervaardiging nie, en sal gevolglik hul deure moet sluit. Amerika gebruik byvoorbeeld 20% van sy totale mielie-oes vir die vervaardiging van biobrandstof, en daar sal nou ander markte vir dié graan gevind moet word.
Daar is vir die afgelope dekade ’n sterk verbintenis tussen die pryse van grane en oliesade en die prys van ru-olie omdat die vraag na dié grondstowwe gestyg het namate die olieprys gestyg het. Suikerriet, grane en oliesade sal nie teen die heersende prysvlakke winsgewend vir biobrandstof vervaardig kan word nie.
Die huidige lae olieprys se voordele vir die landbou is nog groot, sê Brink. “ ’n Baie sterk moontlikheid bestaan dat die pryse van stikstof ook verlaag sal word omdat natuurlike aardgas nou eerder aangewend sal word om stikstofkunsmis te vervaardig as om met aansienlik laer gaspryse teen die lae brandstofpryse mee te ding. Veral teen die lae pryse vir diesel wat in die noordelike halfrond op ‘n groot skaal vir verhittingsdoeleindes in die winter gebruik word wanneer gaspryse te hoog raak.”
Die vooruitsigte vir die ru-olieprys oor die medium en langer termyn is op dié stadium baie moeilik om te voorspel. Die moontlikheid dat hoër prysvlakke weer die balans tussen die vraag en aanbod in die mark in die nabye toekoms kan herstel, veral nadat die onekonomiese ontginning van ru-olie nou drasties afgeskaal sal word, moet egter nie onderskat word nie.