
Tans word wyd gespekuleer oor wat die uitwerking van die drasties laer ru-olieprys op internasionale kunsmispryse is, sê mnr. Corné Louw, ekonoom van Graan SA.
“Eerstens behoort ’n laer ru-olieprys kunsmispryse in die algemeen goedkoper te maak omdat ’n groot persentasie van die wêreld se kunsmis redelik ver vervoer moet word,” sê Louw in die produsente-organisasie se jongste nuusbrief.
“Tweedens behoort dit ’n regstreekse invloed op stikstofpryse te hê. Ru-oliepryse beïnvloed natuurlike gaspryse, wat die hoof-grondstof vir stikstof-produksie is. ’n Laer ru-olieprys kan dus laer stikstofpryse tot gevolg hê.”
Louw voeg egter by dat dit moeilik is om te bepaal wanneer die uitwerking van die laer ru-oliepryse op kunsmispryse gevoel gaan word.
Internasionale neigings in kunsmispryse kan wel met redelike akkuraatheid gebruik word om veranderings in plaaslike kunsmispryse te voorspel. Die internasionale pryse van ammoniak het van Desember 2014 tot Januarie 2015 gedaal, terwyl die internasionale pryse van ureum, DAP en kaliumchloried meestal gestyg het.
Hoewel plaaslike pryse die internasionale pryse in groot mate navolg, het veranderings in die rand-dollar-wisselkoers ook ’n invloed, sê hy.
Ons gemiddelde plaaslike MAP-prys het in die jaar van Januarie 2014 tot Januarie 2015 met 28% gestyg, die gemiddelde KAN-prys met 4,6%, die gemiddelde ureumprys met 4,5% en die gemiddelde kaliumchloried-prys met amper 8%, toon Louw se statistieke.