Die laer kragtariefverhoging wat pas aangekondig is, kan melkboere help, sê dr. Koos Coetzee van die MPO.
Luidens ‘n verklaring sê Eskom ‘n verhoging van 16% vanaf April dié jaar is goedgekeur. Dit is aansienlik laer as die 25,9% verhoging wat aanvanklik twee jaar gelede vir 2012 aangekondig is.
Die kragvoorsiener se aansoek by Nasionale Energie Reguleerder van SA (Nersa) in 2010 het baie kritiek uitgelok, omdat dit vir verhogings van meer as 30% gevra het. Verhogings vir ‘n tydperk van drie jaar, wat jaarliks meer as 20% was, is toe toegestaan. Die verlaagde tarief volg glo ná pres. Jacob Zuma in sy staatsrede gevra het dat Eskom sy verhogings moet verlaag en na ander maniere van finansiering moet kyk.
Boere ‘hard geslaan’
Coetzee sê die afgelope twee jaar se verhogings van meer as 20% per jaar het melkboere hard geslaan. “Veral die boere wat hulle krag van hulle plaaslike munisipaliteite aangekoop het se koste het baie gestyg.”
Volgens Coetzee is ‘n groot deel van ‘n melkboer se insetkoste sy kragrekening vir verkoeling en die melkproses. “Besproeiing maak ook ‘n groot deel van insetkoste uit, aangesien baie melkboere besproei of omdat besproeiingskostes ingereken word by die prys wat hy vir voer van ‘n ander bron af betaal.”
Coetzee sê voerkoste vir melkboere het van Januarie 2010 tot Januarie 2012 gemiddeld met sowat 55% gestyg, terwyl krag- en brandstofkoste in dieselfde periode met 37% gestyg het. In dié twee jaar-tydperk het die prys per liter melk aan ‘n boer met gemiddeld 7% gestyg.
“So, hierdie aankondiging maak dinge ‘n bietjie beter, maar dan word dit weer deur die styging in die brandstofprys gepootjie,” vertel Coetzee.
* Intussen het mnr. Malusi Gigaba, Minister van Openbare Werke, ‘n versoek aan sake-ondernemings en plaaslike owerhede gerig om die verlaging aan verbruikers deur te gee, want dié verlaging is gedoen om werkskepping en ekonomiese groei te bevorder.
12 Maart 2012