Prysverlagings oor ‘n breë front het Kaap Agri se omset in die afgelope finansiële jaar erg geknou in so ‘n mate dat die sterk groei in omset van die vorige twee finansiële jaar nie geëwenaar kon word nie.
Die totale omset van R3,47 miljard is 4,1% hoër as die vorige jaar. Volgens mnr. George Eksteen, voorsitter van Kaap Agri, sou die omset wat behaal is, nie gerealiseer het as die maatskappy “net agteroor gesit en gewag het vir besigheid nie”.
Kaap Agri se besigheidsmodel rus op diversifikasie oor provinsies en buurlande en ses nuwe Pakmarktakke en twee nuwe Liquormarktakke is die afgelope jaar gevestig. Daar word verwag dat die nuwe takke eersdaags ‘n bydrae tot wins sal begin lewer.
“Kaap Agri se verspreiding oor verskeie geografiese gebiede, asook verskeie kommoditeite, beteken dat hy nie net blootgestel is aan een produk of gebied nie. Hierdie diversifikasie versprei risiko wat eie is aan die landbou, wat blootgestel is aan verskeie faktore waaroor die produsente, en dus kliënte, geen beheer het nie. Dit kan ook waargeneem word in die debiteureboek waar geen konsentrasie van groot individuele risiko’s lê nie,” sê Eksteen.
Die volgehoue afname in die mededingendheid en winsgewendheid van koringverbouing in die Wes-Kaap is vir Kaap Agri ‘n groot bron van kommer. In sy voorsittersverslag noem Eksteen dat daar in 2010 18% minder koring geplant is, en die pryse steeds laer is as wat op die duur volhoubaar is.
“Prysbeskerming en subsidies wat in ander lande geld, maak dit al hoe minder mededingend omkoring plaaslik te verbou en een derde van binnelandse verbruik word reeds ingevoer. Bestaande heffings wat veronderstel is om voedselsekuriteit te bevorder, is onrealisties laag en lewer geen ondersteuning aan die bedryf nie. Ingevoerde voedsel beteken nie noodwendig goedkoper pryse nie, maar beteken ook ingevoerde arbeid en uitvloei van kapitaal.”
Kaap Agri het ‘n finale dividend van 22 sent per aandeel – dieselfde as die vorige jaar – verklaar. Saam met die tussentydse dividend van 2 sent per aandeel wat vroeër uitbetaal is, is die totale dividend vir die jaar 24 sent per aandeel, of R59 miljoen.
Eksteen sê 5,2% van Kaap Agri se aandele het gedurende die jaar verhandel; wat beskou word as baie likied vir ‘n ongenoteerde aandeel. Die geweegde gemiddelde verhandelingsprys was R7,76 per aandeel, wat 40% hoër is as die vorige jaar.
14 Desember 2010