
'n Verlaging in die rentekoers, al is dit hoe klein, is goeie nuus vir die landbousektor.
“Die landbou is ’n bedryf met hoë insetkoste en enige kontantvloei-inspuiting danksy die rentekoersvermindering kan die hoeveelheid benodigde krediet beperk,” sê mnr. Daniel Terblanche, ’n mededirekteur van Deloitte.
Die Reserwebank het die rentekoers op 20 Julie met 25 basispunte verlaag, maar gewaarsku dat as inflasievooruitsigte versleg, hy nie sal huiwer om sy besluit om te keer nie. Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, sê die koersverlaging sal druk op boere en landboubesighede verlig en winsgewendheid verbeter.
Ook mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, sê met die landbou se skuldvlak van meer as R140 miljard sal enige verlaging ’n bietjie asemhalingsruimte skep. Anders as in die res van die ekonomie het landbousakelui se vertroue vanjaar verbeter en dui op moontlike uitbreiding.
Klein voordeel
Sihlobo sê dit is egter danksy beter klimaatstoestande en nie faktore buite die landbou nie. Volgens Terblanche verwag kenners nie dat rentekoersverlagings vinnig verandering in die landbou sal meebring nie.
’n Vermindering op sigself hou slegs ’n klein voordeel vir die landbou in. Die landbou word volgens hom baie geraak deur die wisselkoers en olieprys, die land se ekonomiese groeikoers, monetêre beleidsverandering in ander groot ekonomieë, moontlike verdere kredietafgraderings, en politieke onsekerhede. Enige van dié faktore kan die rentekoers beïnvloed.
Verder is die invloed van droogte nog duidelik sigbaar. Terblanche sê volgens ’n bedryfskenner is sagtevrugtepryse tot 30% laer as verlede jaar omdat die droogte gehalte benadeel het. “Die besparing wat rentekoersvermindering teweegbring, kan wel help om dié verlies of skade te beperk.”
Opname
Die droogte het boere en landbouondernemings se kapitaalreserwes geknou.’n Deloitte-opname het gewys die landbou word vanjaar, naas die kleinhandel, as die sektor met die tweede hoogste risiko vir geldelike nood beskou.
Die opname vir die maatskappy se jaarlikse verslag oor die vooruitsigte vir herstrukturering (enige formele of informele proses vir die finansiële en bedryfsherstrukturering van ’n maatskappy in geldelike nood) is in Februarie en Maart gedoen onder banke, prokureurs en sakereddingspraktisyns en ander belanghebbendes.
Altesame 53,6% van respondente het die landbou as ’n risikosektor vir die volgende 12 maande aangedui, teenoor 60,6% in 2016 en 18,2% in 2015.
Weer in die komende seisoen
“Hoewel reën in die somerreënvalgebied omstandighede vir groei kon bevorder het, bly die voorkoms van ‘zombiemaatskappye’(maatskappye wat nie op hul eie bene kan staan nie) ’n risiko,” lui die verslag.
“In die winterreënvalstreek het waterbeperkings ’n nadelige invloed op uitset. “Sommige voorspellers verwag ’n terugkeer van ongunstige weerpatrone in die 2017’18-seisoen, wat weer rede tot ernstige kommer vir dié sektor kan wees.”
“Die neiging in Suid-Afrika is dat groot boere steeds beduidende uitbreidings in hul onderskeie bedrywe aanbring, en dat gemiddelde boere slegs vervang, en nie uitbrei nie,” sê Terblanche.
Groter spelers se uitbreidings hou volgens hom meestal verband met tegnologiese verbeteringe, wat vaste koste verlaag, wat weer tot hoër winste kan lei.
Boere, landbouondernemings en buitelandse verskaffers oorweeg uitbreiding omdat Suid-Afrikaanse geleenthede aantreklik word soos wat Europese markte stagneer. Verder kyk hulle na uitbreiding in bepaalde voorsieningskettings.“
’n Boer kan byvoorbeeld besluit om nie net vrugte te lewer nie, maar ook betrokke raak by die produksie van sap om waarde te put uit vrugte wat andersins nie die mark sou bereik nie.”
’n Belangrike faktor wat uitbreiding egter beperk, “is die onsekerheid oor die vervreemding van landbougrond”.