’n Memorandom rondom die verhandeling van WM 2-, WM 3-, YM 2- en YM 3-mielies is gister (23 Junie) deur NWK aan graanprodusente en silobestuurders gestuur. Die memorandum van NWK is gestuur deur mnr. Nico Pieterse, senior bestuurder van graan by NWK.
In die verklaring sê Pieterse met ’n moeilike stroopseisoen wat pas begin het, en aanduidings dat wesenlike hoeveelhede mielies gegradeer as WM 2, WM 3, YM 2 en YM 3 by graansilo’s gelewer word, is die graanbemarkingstrategie van produsente onder druk.
By navraag van Landbou.com het hy gewaarsku dat dit ’n landwye probleem is. “Hoewel die stroopproses nog nie teen maksimum tempo plaasvind nie, wil dit voorkom asof daar hierdie seisoen baie meer laergraadse mielies gaan wees as vorige seisoene en dit is ’n landwye probleem vir die hele graanwaardeketting. Almal, van produsent tot verhandelaar en meulenaar, gaan hierdeur getref word.”