Omdat lamsvleis vandag redelik duur is, koop verbruikers al hoe meer vark-, bees- en hoendervleis, sê mnr. Bruce Opperman van Spar Wes-Kaap.
Opperman het op ’n rooivleisinligtingsdag van die slagplaasgroep Tomi’s by Hermon in die Wes-Kaap gesê die totale omset van die Spar-kleinhandelgroep in Suid-Afrika is R50 miljard. Daarvan is rooivleis sowat 10%.
“Die duidelike groot verloorder is lamsvleis weens die prys daarvan.” Die rooivleisbedryf ondervind taamlike tekorte aan opgeleide mense, soos blokmanne.
Dit kos vandag sowat R300 000 om ’n klein slaghuis aan die gang te kry, maar omdat daar in die algemeen nie goed in die bedryf vir vaardighede betaal word nie, sukkel eienaars dikwels om goeie blokmanne te kry, sê hy.
Keer plaaslike tekorte
“Suid-Afrika produseer nie genoeg rooivleis vir eie gebruik nie en gebeure oral ter wêreld in dié bedryf raak die land ook. Dit is tyd dat die Regering meer betrokke raak deur maatreëls in te stel om plaaslike tekorte te keer.
Die staat en die bedryf moet hande vat sodat die verbruiker meer geleenthede het om plaaslik geproduseerde vleis te koop.” Vandag se verbruiker is ingestel op handelsmerke vir gehalte.
Die verbruiker moet egter verder opgevoed word oor die volle waardeketting van vleis en hoe pryse wat hulle daarvoor betaal, geformuleer word. Dan sal die wanindruk van buitensporige winste deur kleinhandelaars besweer word, het Opperman gesê.
13 November 2011