
Veeartse vermoed dat die rampspoedige uitbreking van kriptosporidium wat tans tot groot lamvrektes in die Vrystaat en ander dele van die land lei, nóg ’n onverwagse gevolg van die droogte kan wees.
Dr. Maryke Henton, bakterioloog by Vetdiagnostix, sê gevalle van lammers wat in groot getalle weens kriptosporidiose gevrek het, het aanvanklik in die Vrystaat begin, maar van daar het gevalle reeds na ander dele van die land versprei.
“Ons laboratorium vind nou die teenwoordigheid van kriptosporidium in dele van KwaZuluNatal, asook in die noordelike dele van die Wes-Kaap. Daar is ook reeds gevalle van kriptosporidiose in Noordwes aangemeld, asook in dele van Gauteng,” sê sy.
Henton sê kriptosporidium is gewoonlik die oorsaak wanneer mense siek word weens waterbesoedeling. “Ek vermoed dat die droogte van verlede jaar ’n groot invloed het op die voorkoms van die siektegevalle vanjaar. Water is meer gekonsentreer en kon maklik besmet geraak het. Boonop is diere meer intensief aangehou en gevoer, wat die oordrag van die siekte tussen diere vergemaklik het.”
Hoewel Escherichia coli in die breë gesien word as die oorsaak van die vrektes, sê Henton dat die meeste E. colistamme skadeloos is. “Daar is wel enkele stamme wat siektes veroorsaak en omdat daardie bakterie dan in groepe voorkom, is behandeling nie maklik nie.”
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale Dieregesondheidsforum, stem saam dat die droogte ’n groot invloed op die huidige situasie het. “Voer en groot konsentrasies van diere beteken maklike oordrag van die siekte.
"Boonop sukkel veeartse en boere om die E. coli-situasie met antibiotika te beheer omdat E. coli vinnig ’n weerstand teen antibitioka kan ontwikkel. Dit is dus belangrik dat bestuurspraktyke verander word om die situasie om te keer.”
Vervoort sê voorkoming is beter as genesing. “Die belangrikste is om na die dier se spysverteringstelsel te kyk. As die dier gesond is, is daar nie vatplek vir die siekte nie. Boere moet ook probeer om hul veeartse vinniger te betrek as hulle vermoed dat daar ’n bakteri.le uitbreking in hul kudde voorkom.
"Multifaktorale bakterie – waar ’n groep verskillende bakterie ’n dier siek maak – is moeilik om te bestry en ek sou voorstel dat die boer eerstens kyk na voeding (as voorkoming), geregistreerde middels vir behandeling en laastens antibiotika om weerstandigheid te voorkom.”
Die situasie sal ook op die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) se kongres bespreek word.