
Die Land Bank se goeie groei in verdienste in die jaar tot 31 Maart is deur kostebesnoeiing en netto rente-inkomste gedryf.
Mnr. Bennie van Rooy, finansiële hoof, het met die bekendmaking van die bank se resultate gesê 85% van die bank se lenings is hoofsaaklik korporatiewe blootstelling aan ondernemings wat 'n jaar of twee se droogtes kan deurstaan. Hy het ook gesê die Land Bank het 'n gediversifiseerde portefeulje en is nie net aan droëland-graanboere blootgestel nie.
Die bank was die eerste in Suid-Afrika om in sy afgelope boekjaar 'n nuwe internasionale standaard vir finansiële verslagdoening in werking te stel, die sogenaamde IFRS9, wat meegebring het dat hy sy definisie van niepresterende lenings verander het en meer proaktief hieroor optree.
Belegging
Mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof, het sy kommer uitgespreek oor tekens dat boere se skuldvlakke styg, maar dat hulle nie in hul plase herbelê nie. “Voortgesette belegging is belangrik vir die sektor om te kan groei.”
Nchocho het ook gesê die grondhervormingsprogram moet versterk word om sukses te kan behaal. “Suid-Afrika kan nie bekostig om nié 'n suksesvolle grondhervormingsprogram te hê nie.”
Hy vrees baie van wat met grondhervorming bereik is, is deur die droogte ongedaan gemaak. Nchocho het gesê die droogte wys hoe belangrik dit is dat die Regering een of ander vorm van subsidie moet oorweeg om bystand te kan gee.
Finansiering
Oor Future Growth Asset Management se onlangse opskorting van verdere lenings aan staatsondernemings het Van Rooy gesê Futuregrowth is, soos enige ander finansierder, 'n belangrike finansierder vir die bank.
Sedert die aankondiging het die twee partye uitgebreide gesprekke gehad en het die bank baie inligting aan Futuregrowth voorsien. Van Rooy het verwag Futuregrowth sou binnekort 'n aanduiding oor sy siening van die bank gee.