Afgri se leningsafdeling, GroCapital, is van 1 Desember 2011 af onder die Land Bank se vlerk.
Luidens ’n mediaverklaring is die bank baie bly om GroCapital Financial Services Proprietary Limited as deel van sy leningsboek aan boere aan te teken.
Dié transaksie behels dat die Land Bank nou dié debietboek besit en finansier, terwyl GroCapital die administratiewe funksies sal vervul en verhoudings met kliënte sal behou en opbou.
Vyf jaar
Ingevolge die transaksie sal GroCapital voortgaan om nuwe lenings in sy eie naam aan te gaan, maar hy sal die nuwe debietboeke oor ten minste die volgende vyf jaar aan die Land Bank te koop aanbied.
Ná die vyf jaar verstryk het, sal die twee instansies die ooreenkoms en die voorwaardes daarvan nagaan.
’n Debietboek van sowat R5,1 miljard sal na verwagting in die vyf jaar-tydperk aan die Land Bank verkoop word.
Die ooreenkoms sal die twee instansies die kans bied om elk op hul kernbesigheid te fokus. Die bank se bates kan met tot 7,5% groei weens die transaksie. Kliënte sal ook bevoordeel word deurdat hulle toegang to meer geld sal hê, terwyl ’n hoë vlak van dienslewering gehandhaaf sal word.
Afname in skuld
Die deurvoering van die transaksie stel Afgri in staat om die nuut vrygestelde kapitaal vir ander sakegeleenthede te gebruik.
Mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte, sê: “Die aansienlike verlaging in skuld is baie belangrik vir Afgri. ’n Verlaging van R1,886 miljard in skuld, wat die eerste deel van die transaksie is, het ’n impak van 40% op die verhoudingratio vir die boekjaar geeïndig op 30 Junie 2011, wat (ná die transaksie) van 5,81 tot 3,47 verbeter het en die skuld teenoor aandeleratio van 2,88 tot 1,68.”
Intussen sê mnr. Phakamani Hadebe, hoof uitvoerende beampte van die Land Bank, hulle is baie opgewonde oor die geleenthede wat die transaksie aan hulle bied.
“Dit is deur transaksies van dié aard dat die Land Bank in staat is om sy aard van finansiële dienste in die opkomende mark te verbreed, wat dus sy rol in die versekering van voedselsekerheid verbeter. Die bank se vermoë om bekostigbare finansiering te bekom en aan te bied, verhoog die geleenthede van bekostigbare voedselpryse in Suid-Afrika.”
15 Desember 2011