
Die Land Bank het sedert 1 September 2009 (toe die huidige bestuur bewus geword het van foutiewe berekeninge) reeds 11 103 kliënterekeninge nagegaan en berekeningsfoute is herstel, sê mnr. Lebogang Serithi, finansiële hoof van die bank.
Hoewel regstellings hoofsaaklik betrekking gehad het op die foutiewe verhaling van geld en die rente daarop, is die herberekening van rente ook gedoen op lenings van kliënte wat met die bank verskil het.
Sedert November verlede jaar het vyf toetssake oor berekeningsgeskille in Suid-Afrikaanse howe gedien. Al dié dispute, asook die 19 sake wat daarmee verband hou is afgehandel, sê Serithi.
‘‘Ons glo die bank het tydig opgetree oor dié kwessie gewees. Mnr. Wolf Meyer, die voormalige finansiële hoof van die bank, het op 13 Januarie 2010 ’n brief aan alle kliënte gestuur om hulle in te lig dat administrasiegeld verkeerdelik op sekere rekeninge gehef is en dat dit herstel sou word.’’
Kliënte is ook herhaaldelik genooi om met die bank in verbinding te tree as hulle onraad op hul rekeninge vermoed.
Serithi sê daar is steeds ’n toegewyde span wat net aan dié kwessie werk en dat die bank sal aanhou om rekeninge na te gaan totdat alle foute uit die weg geruim is.