Die Land Bank wil onder meer na hierdie deel van die landboubedryf uitreik en die boere help om ’n toenemend groter rol in die bedryf se groei en volhoubaarheid te begin speel.
Me. Thabi Nkosi, nie-uitvoerende voorsitter van die Land Bank, het gesê die Land Bank gaan nou sterk daarop konsentreer om finansiering beskikbaar te stel vir die groot groep opkomende boere in Suid-Afrika.
“Dis geen geheim dat die bank eerder in die kommersiële omgewing bedrywig is nie, ten spyte daarvan dat die Land Bank ’n ontwikkelingsfinansier is. Ons het nie ons deel gedoen wat ontwikkeling betref nie, en wil dit verander.”