Die Noord Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het gelas dat die Land Bank meer as R3 miljoen aan drie eisers moet betaal.
Die bank moet ook die regskoste van die saak betaal. Die eisers, Ryton Estates, Twiggy Timber en Bork Estates, se regsdispuut het gehandel oor die manier waarop rente gehef word en dat die bank glo wederregtelik bankkoste gehef het.
Regter W.R.C. Prinsloo het bevind dat die bank R3 265 054 moet terugbetaal omdat rente oorverhaal is. Hy het ook bevind dat rente wat verkeerd bereken is, teen 15,5% per jaar bereken moes word.
Wetgewing
Daar is bevind dat die bank nie saamgestelde rente kon hef of voorskotte op lenings kon toestaan nie. Die bank was ook nie geregtig om administratiewe koste, boetes of enige diverse debiete te hef ten opsigte van voorskotte of lenings wat dit toegestaan het ingevolge voormalige Land Bank wetgewing (Wet 13 van 1944) nie.
Mnr. Schalk Botha van die eisers se regspan sê dié saak dien as ’n toetssaak waarvolgens hulle nou ál hul kliënte se eise sal afhandel. Hy is egter ongelukkig oor die hof se beslissing ten opsigte van die rentekoers.
“Die hof het beslis dat die rentekoers wat die bank teen klante se rekenings hef, nie in verhouding tot die prima (repo) koers hoef te wees nie. Ongelukkig is dit dan in orde vir die bank om die koers eensydig te verhoog.”
17 Maart 2012