Die plan om die Land Bank op lang termyn volhoubaar te maak, kan voortgaan met die heraanstelling van die hoof uitvoerende beampte.
Luidens ’n nuusverklaring het die bank se raad van direkteure sy tevredenheid uitgespreek dat mnr. Phakamani Hadebe se kontrak met twee jaar verleng is.
Hadebe se kontrak sou einde volgende maand verstryk het. Die Kabinet het egter sy heraanstelling goedgekeur op aanbevelings wat die raad aan mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, gedoen het. Die aanstelling is Woensdag, 23 November 2011, goedgekeur.
“Ons is baie in ons skik dat die minister en die Kabinet saamgestem het met die aanbeveling om mnr. Hadebe – wat in die middel van ’n reuse-projek is om die Land Bank op lang termyn volhoubaar te maak – weer aan te stel.
"Dié besluit laat die HUB en die bestuurspan toe om die werk waarmee hulle drie jaar gelede begin het, te voltooi,” aldus dr. Ben Ngubane, voorsitter vir die raad.
25 November 2011