Sekuriteitswagte van die Salutem-sekuriteitsmaatskappy in Bloemfontein het op 16 Junie op die verkeerde plaas buite Sutherland opgedaag om in opdrag van likwidateurs die bates en plase van mnr. Carel van der Merwe te beveilig.
Ná die voorval is op sosiale media en in verklarings beweer die Land Bank tree hardhandig teenoor sukkelende boere op en roep lenings te vroeg op.
Intussen gaan die hofgeding in Oktober in Kimberley voort waarin die hof moet beslis of Van der Merwe, sy maatskappye en trust se aansoek bekragtig word om in sakeredding te gaan. Indien onsuksesvol, sal die voorlopige likwidasie- en sekwestrasiebevele wat in Mei aan die Land Bank toegestaan is, finaal gemaak word.