
In
die verklaring maak die Landbank aantygings af as “sensasioneel”.
Kliënte van die bank en ’n paar landbou-organisasies soos Saai en TLU SA het al skerp bewoorde aantygings teen die Land Bank in die media en op sosiale media gemaak.
Mnr. Theo de Jager, uitvoerende hoof van Saai, het verlede week gesê die Land Bank se optrede teen boere wat in die knyp is en dan gedagvaar en gelikwideer word, is ’n nasionale krisis. Hy het dit selfs met die beleid van verskroeide aarde ten tye van die Anglo-Boereoorlog vergelyk.
Ná vorige bewerings van onder meer boelietaktiek teen boere het die bank self ’n ondersoek ingestel oor beweerde onregmatige gedrag.
Die bank het homself in sy eie interne ondersoek kwytgeskeld van die bewerings.
“Die Land Bank neem kennis van onlangse plasings op sosiale media wat beweer die bank en sy regsverteenwoordigers gebruik aggressiewe maniere om kliënte wat nie hul lenings kan terugbetaal nie, te likwideer.”
Luidens die verklaring kon geen bewyse gevind word nie wat aandui die bank gebruik onwettige en onvanpaste praktyke wanneer teen van sy kliënte opgetree word.
“Die bank sal voortgaan om in die belange van al sy belanghebbendes, insluitend sy kliënte, op te tree wanneer dit kom by die invordering van skuld wat die bank volgens toepaslike wetgewing toekom.”
Die bank sê sy invorderingsprosesse is daarom van so aard dat met kliënte saamgewerk word om oplossings te vind juis om risiko’s vir hul sakebedrywighede te probeer beperk en boere te help om weg te doen met hul wanbetalingstatus.
“Hierdie maatreëls moet volhoubare oplossings aan die kliënt en die bank bied, of probeer om die verliese tot die minimum te beperk. Ons vertrekpunt is om boere te help en ons sal slegs voortgaan met regsprosesse teen ’n kliënt as daar nie ’n ander uitweg is nie.”
Die Land Bank nooi kliënte wat voel hulle is onregverdig behandel, om met die bank in gesprek te tree.