
Die Land Bank sê in ’n verklaring haar aanstelling geld van 1 Mei 2022 af. Dit volg op die bedanking van mnr. Ayanda Kanana, wat die bank einde April verlaat het en op 1 Junie as uitvoerende hoof van Halls Fresh Produce begin werk.
Mukhari het haar in Februarie 2020 by die bank aangesluit. Sy het volgens die verklaring 14 jaar ervaring in leierskapsrolle in die finansiële dienstesektor gehad voordat sy haar by die Land Bank aangesluit het. Sy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en het ook ’n meestersgraad in sake-leierskap (MBL).
Die direksie het me. Dorothy Kobe as waarnemende finansiële hoof aangestel en begin met die proses om “so gou as moontlik” ’n permanente uitvoerende hoof vir die Land Bank te werf, aldus die verklaring.
Toe Kanana saam met Mukhari in Februarie 2020 as onderskeidelik uitvoerende hoof en finansiële hoof by die Land Bank aangestel is, is hul aanstelling voorafgegaan deur ’n afgradering van die Land Bank se skuld deur Moody’s. Die graderingagentskap het destyds gesê die besluit is deels gegrond op die tydperk van onsekerheid wat geskep is omdat dit so lank duur om weer ’n permanente uitvoerende hoof aan te stel. Die bank was destyds 18 maande sonder ’n permanente uitvoerende hoof en die ouditeur-generaal het ’n opinie weerhou oor die bank se 2020-boekjaar.