
Veranderde denke en nuwe inisiatiewe is nodig vir voedselsekerheid en oorlewing in die landbousektor in die komende eeu. Dít is die basis van ’n ooreenkoms wat die Land Bank en Afgri Woensdag (11 Julie 2012) in Centurion onderteken het.
“Soos wat die wêreld in die 22ste eeu inbeweeg, sal voedselsekerheid nuwe denke en ’n nuwe benadering verg. Ons sal die manier wat ons sake doen, moet hersien,” sê mnr. Phakamani Hadebe, hoof uitvoerende beampte van die Land Bank. Die Land Bank is vanjaar 100 jaar oud en doen al die afgelope 88 jaar sake met Afgri.
Die twee ondernemings het vroeër ’n ooreenkoms, wat R6 miljard oor vyf jaar verteenwoordig, aangegaan. Die jongste stap in die ooreenkoms was dat die Land Bank GroCapital Financial Services (Edms.) Bpk. se korporatiewe debietboek oorneem. GroCapital behoort aan Afgri. Die nuwe deel van die ooreenkoms geld van Junie 2012 af. Die eerste stap was die oorname van Afgri se boeredebietboek in Desember 2011.
Voordele
Die ooreenkoms val binne die bank se fokus op ontwikkeling en uitbreiding. Dit vergroot die bank se bates met 10%. Mnr. Lebogang Serithi, hoof finansiële beampte van die bank, sê slegs lenings wat presteer en gediens word, word oorgeneem.
Mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte van Afgri, sê die transaksie sal die maatskappy in staat stel om meer in infrastruktuur, soos silo’s, te belê. “Die oogmerk met die transaksie is dat dit Afgri se finansiële posisie verder sal verbeter met ons skuld-tot-ekwiteitsverhouding wat van 1,85 tot 1,73 verbeter het, sowel as ’n toename in die beskikbaarheid van finansiering wat Afgri kan gebruik om winsgewende geleenthede te ontgin met die kapitaal wat vrygestel is.”
Ingevolge die ooreenkoms sal GroCapital kan voortgaan om nuwe korporatiewe skuld in sy eie naam aan te gaan, maar dié debiet sal vir ten minste vyf jaar as te koop aan die Land Bank aangebied word. Venter sê die oordrag van die boeredebietboek het Afgri in staat gestel om meer te fokus op die maatskappy se verhouding met sy kliënte.
‘Wag en sien’
Venter sê soms kry jy die idee dat ’n bedryf verander. “Soms besluit jy om terug te staan en te wag en sien wat gebeur. Ons het egter met dié transaksie besluit om deel te wees van die verandering pleks daarvan om te ‘wag en sien’.”
Volgens Hadebe het die Land Bank as ’n instelling begin om ander markte te ontgin en dié transaksie is ’n voorbeeld van baie ander transaksies wat kan volg.