Die Land Bank wil sy klante terughê, het mnr. Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van die bank, op ’n funksie van die nasionale Persklub in Pretoria gesê.
Die bank is vir die tweede agtereenvolgende jaar vir sy finansiële syfers geprys. Die groep se wins het van R145 miljoen verlede jaar tot R345 miljoen vanjaar gestyg. Die wins uit bedrywighede was vanjaar R193 miljoen in vergelyking met R220 miljoen verlede jaar.
Al is Hadebe trots op die bank se resultate, het die instansie nog geen duik in armoede verligting gemaak nie. “Ons is veronderstel om dié spasie in die mark te vul waar kommersiële banke nie staan nie.”
Die bank kon nie sy opkomende skuldboek genoegsaam laat groei nie en Hadebe skryf dit toe aan ’n tekort aan ondersteuning. Hy meen ’n plattelandse ontwikkelingstrategie, pleks van ’n ontwikkelende produsent-strategie is nodig om dit te vermag.
Kritiek verskil
Opkomende en kommersiële boere het verskillende kritiek teen die Land Bank.
“Opkomende boere sê ons vorms is te lank en dat hulle nie ernstig opgeneem word deur die bank nie. Kommersiële boere kla weer oor die tyd wat dit duur om hul versoeke te verwerk en sê ook ons standaarde is nie in pas met dié van kommersiële banke nie.”
Albei partye se frustrasie geniet aandag, sê Hadebe.
Hy sê die bank is nou stabiel en dat daar vorentoe gekyk kan word. Mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, het die bank geprys vir die puik prestasie.
7 September 2010