
Bewerkbare landbougrond moet uit die kloue van die mynbou gehou word, al is daar nog nie wetgewing wat landbougrond voldoende beskerm nie.
Dit was die mening van me. Rosina Semenya, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, toe provinsies hul kommer uitgespreek het dat hulle met die mynbou moet meeding om landbougrond.
Wetgewing wat landbougrond moet beskerm, word reeds beoog. Onlangs is ’n tweede weergawe van die wetsontwerp op die behoud en ontwikkeling van landbougrond in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer.
Voedsel bo mynbou
Semenya het by die komiteevergadering gesê dat voedselsekerheid bo die mynbou voorkeur moet kry en dat die komitee werk daarvan moet maak dat bewerkbare landbougrond beskerm word. “Dis kommerwekkend dat ’n provinsie soos Mpumalanga, wat tot die land se mielie-oes bygedra het, deur die mynbou oorgeneem is.”
Hoe meer grond die landbousektor verloor, hoe groter druk word op bestaande grond geplaas om in die toenemende behoefte aan kos te voorsien – plaaslik, en op die res van die kontinent.
Mnr. Nowata Jethro, departementshoof van die departement van landbou in Limpopo, het aan die komitee gesê dat wanneer daar nie kos in die provinsie is nie, hy aan die munisipale amptenare wat landbougrond aan mynbou afstaan, gaan sê om goud te gaan eet.
Moes onderhandel vir meer water
Om sy departement se frustrasie verder te beklemtoon, het hy gesê dit is moeilik om boere te bemoedig, want hulle ding met die myne mee vir water. “In Naledi moes ons met waterwese onderhandel vir meer water, want weens die lae damvlakke het ons nie genoeg gehad nie.
Teen 16 September vanjaar was die damvlakke 49,1% vol. Dieselfde tyd verlede jaar was dit 76% vol.
“Wanneer boere nie kan besproei soos hulle moet nie, het dit werklik ’n impak op wat boere kan produseer,” sê Jethro. Limpopo het met 43,8% die hoogste persentasie mense wat by die landbou betrokke is en graanproduksie is die voorkeur landbou-aktiwiteit.