
Die landbou sal binnekort die oliesektor as die vernaamste sektor in die Nigeriese ekonomie verbysteek, sê dr. Akinwumi Adesina, dié land se minister van landbou en landelike ontwikkeling.
Hy sê dit is moontlik omdat pres. Goodluck Jonathan se transformasie-agenda vir die landbou dié sektor ’n hupstoot gee. Volgens hom gaan die landbou die staatmaker in die land se ekonomie word weens die skerp daling in die prys van ruolie. Voedselproduksie het die afgelope paar jaar skerp gestyg.
Daar is ook ’n bemarkingskorporasie gestig, ’n landbousensus is gehou en gesubsidieerde kunsmis is onder 14 miljoen boere versprei. Jonathan het die landbou as die lewensbloed van Nigerië bestempel en gesê nuwe welvaart moet daardeur geskep word.
“Ons sien die landbou as sake-onderneming en nie as ’n ontwikkelingsprogram nie. Die sektor moenie net armoede bestuur nie.” Volgens hom begin plaaslike rys goed meeding teen ingevoerde rys en kan invoerders nie die land gyselaar hou nie.
Bron: Leadership.ng