
Ná twee opeenvolgende jare se groei in Suid-Afrika se landbousektor sal daar waarskynlik in 2022 ’n matige afname wees as die syfers vir die boekjaar in Maart 2023 bekend gemaak word, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, in ’n samevatting oor die jaar wat ten einde snel.
Hy sê in 2020 het die landbousektor in bruto waarde met 14,9% op ’n jaargrondslag gegroei en in 2021 met 8,8%. Die verwagte afname vir vanjaar dui op die moeilike omstandighede. Dit sluit in afnames in belangrike oeste soos dié van mielies, produksieprobleme in die suikerbedryf en handelstruikelblokke vir bedrywe soos vrugte, groente, rooivleis en wol, asook ander ongunstige gevolge van die wydverspreide voorkoms van bek-en-klouseer.
Die verwagte inkrimping volg egter op buitengewone sterk groei die afgelope twee jaar en hy beklemtoon dat die sektor steeds sterk vertoon te midde van ’n La Niña-somerseisoen met baie reën oor die hele Suid-Afrika. Hy sê die goeie reën (tensy dit verwoestend raak) tesame met voornemens om aanplantings te verhoog, dui daarop dat 2023 weer ’n jaar van groei kan wees.
Op die gebied van voedselsekerheid het Suid-Afrika sy plek op The Economist se wêreldindeks vir voedselsekerheid verbeter. “Suid-Afrika is nou nommer 59 uit 113 lande, terwyl hy nog die 70ste plek in 2021 beklee het. Dit plaas Suid-Afrika aan die voorpunt van voedselsekerheid in Afrika, gevolg deur Tunisië in die 62ste plek. Dit is ’n merkwaardige verbetering,” sê Sihlobo.
Hy wys daarop dat Suid-Afrika se verbetering nie net die gevolg is van ander lande se afname weens die konflik tussen Rusland en Oekraïne nie. Suid-Afrika se telling het opgeskuif van 57,8 in 2021 tot 61,4 vir 2022. Hierdie telling word gegrond op beskikbaarheid, bekostigbaarheid, gehalte en veiligheid, asook volhoubaarheid en aanpassing met produksie. Net wat bekostigbaarheid betref, was daar ’n afname by Suid-Afrika.
Werkskepping
Wat werkskepping betref, het die primêre landbou 873 000 mense in die derde kwartaal van 2022 in diens gehad wat op ’n jaargrondslag 5% meer was. “Dit is ver bo die langtermynindiensnemingsyfer van 780 000 en kan toegeskryf word aan die toenemende bedrywighede by die verbouing van sommige groente, vrugte en gesaaides.”
Sihlobo sê die landbou se verdienste uit uitvoer bly ook bemoedigend ondanks handelsprobleme met sitrus na die Europese Unie, wol na China en groente na Namibië en Botswana. Volgens beskikbare data vir die eerste agt maande van die jaar was uitvoerverdienste $8,9 miljard (R154,5 miljard) wat 6% meer is as die eerste agt maande van 2021. Hoër kommoditeitspryse het bygedra tot hierdie toename in uitvoerinkomste.
In sy jaaroorsig wys Sihlobo na belangrike beleidsontwikkelinge en -programme wat in werking getree het. As dit behoorlik toegepas word, kan dit sektorgroei op lang termyn ’n verdere hupstoot gee. Dit sluit in die meesterplan vir landbou en landbouverwerking wat die samewerking van almal in die sektor gaan verg om suksesvol te wees. Dit is veral gekonsentreer op faktore wat groei beperk.
Dan is daar ook die gemengde finansieringsinstrument tussen die departement en die Land Bank wat die toepassing van die meesterplan verder kan ondersteun en waarby ander finansieringsinstellings ook betrokke kan raak in die maande wat kom.
Sihlobo sê een terrein waarop daar min vordering was, was met die skep van ’n agentskap vir landbou-ontwikkeling en grondhervorming. Die agentskap is gerig op versnelde herverdeling, maar daar word nog gewerk aan die struktuur daarvan.
“Ondanks alles wat bereik is, is daar talle probleme van buite die sektor. Dit sluit in gebrekkige infrastruktuur en hulpbronne soos paaie, spoorvervoer, hawens, water en elektrisiteitsvoorsiening, asook dienslewering by plaaslike owerhede.
“Daarby is dit noodsaaklik om uitvoermarkte uit te brei na ander lande as ons tradisionele uitvoerbestemmings. Voorkeurlande sluit in China, Suid-Korea, Japan, Amerika, Taiwan, Indië, Saoedi-Arabië, Mexiko, die Fillipyne en Bangladesj. Hulle is op die Suid-Afrikaanse owerhede se radar.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.