Verskeie landbou-organisasies het hul dank teenoor die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye uitgespreek oor samewerking rondom rampskade weens vloede.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, en dr. Pieter Mulder, haar adjunk, Agri SA, die TLU SA en Nafu het Dinsdag (25 Januarie) vergader om die situasie te bespreek.
Lees ook:
Al die landbou-organisasies het hul dank teenoor die minister en die moontlike planne op die tafel uitgespreek. Volgens die minister was dit ‘n positiewe sessie, en is die departement dankbaar vir die hulp wat die betrokke organisasies belowe het om skade te help bereken en probleme aan te spreek.
Met behulp van dié organisasies kan die departement bepaal watter distrikte en bedrywe prioriteit rondom hulp moet geniet.
“The proof is in the pudding”
Intussen sê mnr. Louis Meintjes, ondervoorsitter van die TLU SA, of dié rondte se hulpverleningsbeloftes gaan plaasvind, “sal ons maar moet sien. Die staat moet nou weet, ‘the proof is in the pudding’ oor of hulle boere nou regtig gaan help”. Dít volg na boere steeds wag op die beloofde R100 miljoen se ramphulp na 2010 se vloede in die Oranje- en Vaalrivier.
Die minister het erken dat die proses van hulpverlening baie sloer, en dat hulle hoop om dié aspekte wat die sloerdery veroorsaak aan te spreek of uit die proses te sny.
Mulder het verduidelik dat die aansoek vir ramphulp deur ‘n uitgerekte proses moet gaan, van plaaslike owerhede tot by departemente, tot by die Tesourie en dan tot by die ramphulpfonds. “Ons wil probeer om dié proses aansienlik te verkort en dié kanale wat sloer, uit te sny.”
Meintjes het opgemerk dat hulle hoop dat die hulp waarvoor tans aansoek gedoen word ‘n aksie deur die Landboudepartement sal wees, “want as die plaaslike owerhede – munisipaliteite – dit weer hanteer gaan geen boer vertroue hê dat hulle ooit beloofde fondse sal ontvang nie”.
Kommer oor werkers
Volgens Joemat-Pettersson wil die departement hom ook toespits op die lot van plaaswerkers wat moontlik al hul besittings in die vloede verloor het of weens die vloede hul werk verloor het.
“Ons is ook bekommerd oor die uitbreek van veesiektes – soos Slenkdalkoors en bek-en-klouseer – weens die vloede, en maan boere om op die uitkyk daarvoor te wees en hul diere in te ent.”
Intussen is twee gevalle van Slenkdalkoors in die Wes-Kaap gediagnoseer, en wag die departement op uitslae van ‘n moontlike derde voorval in Gauteng.
26 Januarie 2011