
Of Onderstepoort Biologiese Produkte nou werklik die noodsaaklike entstowwe het wat nodig is om dieresiektes in die land te voorkom, sal self deur mnr. Mike Mlengana, die direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, vasgestel word.
In ’n komiteevergadering van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, wat later in ’n mini-waarheids- en versoeningskommissie ontaard het, het Mlengana se frustrasie met dié regeringsentiteit na vore gekom.
Nog voordat dr. Steven Cornelius, uitvoerende hoof van die OBP, ’n klomp vrae van die komiteelede kon beantwoord, het Mlengana hom tot orde geroep en uitbasuin dat Cornelius wéér nie die volle waarheid gaan praat nie. Hy het gesê hy’t al self ondervind dat OBP sê die entstowwe is beskikbaar, maar wanneer hulle daar kom, is daar niks.
Self te gaan kyk
“Die enigste alternatief wat ons het is om self te gaan kyk wat op die rakke is, want ons is by ’n punt waar ons nie die bestuur vertrou nie. Hulle het aan my, die Minister en die direksie van OBP gesê dat hulle die entstowwe het. Ons het een van ons veeartse gestuur om te gaan kyk en hy het gevind dat sommige van die entstowwe nie daar is nie.”
Mlengana het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) die waarheid praat wanneer hy sê daar ’n tekort is aan kritieke entstowwe om dieresiektes te voorkom.
“Hy (Cornelius) gaan nou sê die entstowwe is daar, maar as ons môre gaan kyk dan is daar weer niks. Daar is geen rede vir die veeartse om te lieg nie. Hy (Cornelius) maak hom nou gereed om weer so te sê.”
Groot probleem by OBP
Mlengana het verder bevestig dat dit waar is dat daar ’n groot probleem by die OBP is en die enigste manier om te bepaal of Cornelius die waarheid praat, sal wees dat hy (Mlengana) en sy span self gaan kyk of elke entstof soos OBP beweer, daar is.
“Ons gaan nie hier sit en hulle verdedig nie. Ons sal self soontoe gaan en die probleem aanspreek.
“Indien die entstowwe wel daar is, sal ek verskoning vra,” het Mlengana gesê.