
Landbou in Suider-Afrika is die brandpunt van ontwikkeling, waar voedsel in die komende dekades vir die wêreld geproduseer moet word, sê dr. Theo de Jager.
Die Jager is voorsitter van die Konfederasie van Suider-Afrikaanse Landbou-unies (Sacau), en hy het op die jaarkongres van die Namibiese Landbou-unie in Windhoek gepraat.
"Meer as die helfte van die mense in dié streek maak hul bestaan uit die landbou. Tegnologie-ontwikkeling geskied snel en dit het mense nie lank geneem om van die trom tot die selfoon en vanaf die skoffelpik tot meganisasie te ontwikkel, sodat hulle surplusse voedsel kan produseer nie."
De Jager het gesê meer as ‘n triljoen Amerikaanse dollar is die afgelope jare deur onder meer Amerika en Europa aan ontwikkelingshulp vir die vasteland bewillig, waarvan nie veel vordering getoon kan word nie.
“As ons as kommersiële boere nie help om nie-kommersiële landbou te bevorder nie, het niemand ‘n toekoms in Afrika nie,” het hy gesê.