Vir hom verteenwoordig die landbou 100% van die ekonomie omdat daar niks binne die ekonomie kan gebeur as die mense nie kos of klere het nie, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy het in ’n groeteboodskap by die TLU SA se jaarkongres in Pretoria gesê daar word baie gestry oor die landbou se werklike bydrae tot die ekonomie. “Is dit 3% of 4%? As die landbou met 4% groei en die res van die sektore staan stil, groei die land se konomie steeds met 1%. Dit wys vir my dat die landbou se werklike invloed naby 25% moet wees.”
Möller sê vir boere om suksesvol te wees moet hulle ’n positiewe benadering hê, hul verwagtinge moet realisties wees en hulle optrede moet pragmaties wees.
In nog ’n groeteboodskap het dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê hy word baie gevra of hy positief of negatief oor die landbou is. “Dit is ’n baie moeilike vraag omdat dit wissel soos wat die pendulum swaai in die rigting van die landbou of die politiek.”
Hy sê as pres. Jacob Zuma by Bultfontein sê kommersiële boere is noodsaaklik, dan voel hy positief, en as die Regering erken dat grondhervorming misluk en hektare nie nagejaag moet word nie, dan is hulle siening realisties en hy voel positief.
Aan die ander kant swaai die pendulum na die negatiewe kant as Malema oor nasionalisering praat of as ’n plaawerkerberaad mense polariseer.
Hy sê binne dié omgewing speel die georganiseerde landbou ’n belangrike rol. “Dit is nodig dat die georganiseerde landbou ons hand binne die politiek moet sterk deur sy stem dik te maak. Groter eenheid binne die landbou is egter nodig.”
9 September 2010